Spring na inhoud

Hoe kan jy God persoonlik leer ken?

Hoe kan jy God persoonlik leer ken?

Die Bybel se antwoord

 Jy kan God persoonlik leer ken deur meer oor hom uit te vind en sekere dinge te doen wat hom gelukkig maak. God sal dan “nader aan [jou] kom” (Jakobus 4:8). Die Bybel verseker ons dat “hy . . . eintlik nie ver van elkeen van ons af [is] nie”. – Handelinge 17:27.

 Wat ons moet doen om God te leer ken

 Lees die Bybel

  •  Wat die Bybel sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer.” – 2 Timoteus 3:16.

  •  Betekenis: God is die Skrywer van die Bybel. Hy het sy gedagtes in die verstande van die Bybelskrywers gesit. Deur middel van hierdie unieke boek het God vir ons gesê watter soort lewe hy vir ons wil hê. Hy het ook aspekte van sy persoonlikheid bekendgemaak, insluitende sy liefde, geregtigheid en genade. – Eksodus 34:6; Deuteronomium 32:4.

  •  Wat jy kan doen: Lees die Bybel elke dag (Josua 1:8). Dink na oor wat jy lees en vra jouself af: ‘Wat leer dit my oor God as ’n Persoon?’ – Psalm 77:12.

     Byvoorbeeld, lees Jeremia 29:11 en vra jouself dan af: ‘Wat wil God vir my hê – vrede of rampspoed? Is hy ’n wraaksugtige God of wil hy hê dat ek ’n goeie toekoms moet hê?’

 Kyk na die skepping

  •  Wat die Bybel sê: “[God se] onsigbare eienskappe . . . word van die wêreld se skepping af duidelik gesien omdat dit waargeneem kan word in die dinge wat gemaak is.” – Romeine 1:20.

  •  Betekenis: God se fisiese skepping vertel ons meer oor sy persoonlikheid. Dit is net soos ’n kunswerk wat jou baie oor die kunstenaar kan vertel of ’n ingewikkelde masjien wat jou baie oor die uitvinder kan vertel. Byvoorbeeld, die vermoë en ingewikkeldheid van die mens se brein toon God se wysheid, en die beheerste energie in die son en ander sterre demonstreer sy krag. – Psalm 104:24; Jesaja 40:26.

  •  Wat jy kan doen: Neem tyd om na die natuur te kyk en om meer daaroor te leer. Terwyl jy dit doen, vra jouself af: ‘Wat leer die wonderlike ontwerpe wat ek in die natuur sien, my oor God?’ a Daar is natuurlik baie dinge wat die natuur ons nie oor ons Skepper kan vertel nie. Dit is hoekom hy ons die Bybel gegee het.

 Gebruik God se naam

  •  Wat die Bybel sê: “Ek sal hom beskerm omdat hy my naam ken. Hy sal my aanroep, en ek sal hom antwoord.” – Psalm 91:14, 15.

  •  Betekenis: God, wie se naam Jehovah is, skenk spesiale aandag aan dié wat sy naam ken en dit op ’n respekvolle manier gebruik b (Psalm 83:18; Maleagi 3:16). God het homself aan ons voorgestel deur vir ons te sê wat sy persoonlike naam is. Hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam.” – Jesaja 42:8.

  •  Wat jy kan doen: Gebruik Jehovah se naam wanneer jy van hom praat.

 Praat met Jehovah in gebed

  •  Wat die Bybel sê: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep.” – Psalm 145:18.

  •  Betekenis: Jehovah kom nader aan dié wat tot hom in geloof bid. Gebed is deel van ons aanbidding, en dit wys dat ons diep respek vir God het.

  •  Wat jy kan doen: Bid dikwels tot God (1 Tessalonisense 5:17). Vertel hom van jou bekommernisse en hoe jy voel. – Psalm 62:8. c

 Bou geloof op in God

  •  Wat die Bybel sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry.” – Hebreërs 11:6.

  •  Betekenis: Om nader aan God te kom, moet ons geloof in hom hê. Die Bybel verduidelik dat om geloof te hê, beteken meer as om net te glo dat God bestaan. Dit beteken ook dat ons hom ten volle vertrou, insluitende sy beloftes en standaarde. Om ’n goeie verhouding met iemand te hê, moet jy hom vertrou.

  •  Wat jy kan doen: Jy kan net ware geloof hê as jy kennis verkry (Romeine 10:17). So studeer die Bybel en oortuig jouself dat jy God en sy raad kan vertrou. Jehovah se Getuies sal bly wees om die Bybel met jou te studeer. d

 Doen wat God gelukkig maak

  •  Wat die Bybel sê: “Want die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam.” – 1 Johannes 5:3.

  •  Betekenis: Jehovah is na aan mense wat wys dat hulle lief is vir hom deur hulle bes te doen om sy gebooie te gehoorsaam.

  •  Wat jy kan doen: Terwyl jy die Bybel studeer, let op waarvan God hou en waarvan hy nie hou nie. Vra jouself af: ‘Watter veranderinge kan ek maak sodat ek my Skepper gelukkig kan maak?’ – 1 Tessalonisense 4:1.

 Ondervind God se liefde deur sy raad toe te pas

  •  Wat die Bybel sê: “Kom ondervind en sien self dat Jehovah goed is.” – Psalm 34:8.

  •  Betekenis: God nooi jou om self te sien hoe goed hy is. Wanneer jy sy liefde en ondersteuning ondervind, sal jy nader aan hom wil kom.

  •  Wat jy kan doen: Terwyl jy die Bybel lees, pas God se raad toe en sien die voordele wat dit bring (Jesaja 48:17, 18). Kyk ook na werklike voorbeelde van mense, wat met God se hulp, uitdagings oorkom het, hulle en hulle families se lewe beter gemaak het en ware geluk gevind het. e

 Verkeerde idees oor of dit moontlik is om God te leer ken

 Verkeerde idee: God is te kragtig en te belangrik om na aan ons te wil wees.

 Feit: Al is God die kragtigste en belangrikste Persoon wat al ooit bestaan het, nooi hy ons om nader aan hom te kom. Die Bybel bevat baie voorbeelde van mans en vroue wat sy goeie vriende geword het. – Handelinge 13:22; Jakobus 2:23.

 Verkeerde idee: Ons kan God nie leer ken nie, want ons kan hom nie verstaan nie.

 Feit: Party dinge oor God is moeilik om te verstaan, soos dat hy ’n onsigbare Gees is. Maar ons kan tog vir God leer ken. Om die waarheid te sê, die Bybel sê dat ons hom moet leer ken om vir ewig te lewe (Johannes 17:3). Wanneer die Bybel vir ons meer oor ons Skepper, sy persoonlikheid, sy doel vir die mens en vir die aarde en sy standaarde vertel, is dit op ’n manier wat ons kan verstaan (Jesaja 45:18, 19; 1 Timoteus 2:4). En soos genoem is, sê die Bybel ook wat God se naam is (Psalm 83:18). Daarom kan ons God nie net leer ken nie, maar ook nader aan hom kom. – Jakobus 4:8.

a Vir voorbeelde van God se wysheid soos dit in die natuur gesien kan word, kyk na die reeks “Is dit ontwerp?

b Baie mense glo dat Jehovah se naam “Hy laat word” beteken. Deur sy naam aan ons bekend te maak, sê God eintlik: ‘Ek sal my wil en doel ’n werklikheid maak. Ek laat altyd my beloftes waar word.’

d Vir meer inligting kyk na die video Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie?

e Kyk na die reeks “Die Bybel verander lewens”.