Spring na inhoud

Die Sinti en die Roma in Duitsland word gehelp

Die Sinti en die Roma in Duitsland word gehelp

Daar woon duisende mense wat Sinti en Roma is, in Duitsland. a Jehovah se Getuies het onlangs traktate, brosjures en video’s, wat op die Bybel gebaseer is, in hulle moedertaal, Romani, uitgegee. b

Gedurende ’n spesiale kampanje wat in September en Oktober 2016 gehou is, het Jehovah se Getuies probeer om hierdie lektuur en video’s wat in Romani beskikbaar is, vir die Sinti en die Roma te wys in verskillende Duitse stede, insluitende Berlyn, Bremerhaven, Freiburg, Hamburg en Heidelberg. Hulle het ook openbare vergaderinge in Romani by hulle Koninkryksale gereël.

’n Oorweldigende reaksie

Baie mense wat Sinti en Roma is, was verbaas en baie bly oor die Getuies se kampanje. Andre en Esther, ’n paartjie wat aan die kampanje deelgeneem het, het gesê: “Mense was opgewonde omdat ons baie moeite gedoen het om hulle te probeer help. Baie was diep geraak toe hulle die Bybel se boodskap in hulle moedertaal hoor en lees. ’n Jong vrou het die video Waarom moet jy die Bybel studeer? in Romani gekyk. Sy het oor en oor geskok gesê: “Dis in my taal!”

’n Getuie met die naam Matthias, wat in Hamburg aan die kampanje deelgeneem het, sê: “Ek en my vrou was deel van ’n groep van agt Getuies. Ons het ’n gebied besoek waar omtrent 400 mense wat Sinti en Roma is, woon. Elke persoon met wie ons gepraat het, wou lektuur hê.” Bettina, wat ook in Hamburg aan die kampanje deelgeneem het, voeg by: “Party het gehuil toe hulle sien dat Jehovah se Getuies lektuur in Romani vertaal het.” Baie mense het dadelik hardop uit die lektuur in Romani begin lees. Sommige mense het ekstra lektuur vir hulle vriende geneem.

’n Hele paar mense wat Sinti en Roma is, het gesê dat hulle na een van die openbare vergaderinge toe sou kom. Van die 94 persone wat die vergadering in Hamburg bygewoon het, was baie nog nooit by ’n Koninkryksaal nie. In Reilingen, naby Heidelberg, het 123 mense ’n vergadering bygewoon. Ná die vergadering het vyf mense wat Romani praat, vir ’n Bybelstudie gevra.

Gedurende die kampanje het Jehovah se Getuies amper 3 000 traktate en brosjures uitgegee. Die Getuies het met meer as 360 mense gepraat wat Sinti en Roma is en 19 mense het die Bybel begin studeer. Baie van hulle het gesê: “Dit is wonderlik dat God ons ook wil help.”

a Die Sinti is ’n minderheidsgroep wat in Wes- en Sentraal-Europa woon. Die Roma is ’n minderheidsgroep wat oorspronklik van Oos- en Suidoos-Europa kom.

b Encyclopædia Britannica Online sê dat die Romani-taal uit “60 of meer verskillende dialekte” bestaan. Om dinge eenvoudig te hou, gebruik hierdie artikel die woord “Romani” om na die taal van die Sinti en die Roma wat in Duitsland woon, te verwys.