Spring na inhoud

“Hoe Jehovah ons lewens gered het”

“Hoe Jehovah ons lewens gered het”

 In 2005 het ’n vrou in Indië met die naam Sowbhagya haar geliefde man aan die dood afgestaan. Hy het altyd goed gesorg vir haar en hulle drie-jarige dogter, Meghana. Nou het Sowbhagya gesukkel om die pot aan die kook te hou.

 Om dinge erger te maak, was Sowbhagya deur ander mense verwerp. Haar familie het haar en haar dogter soos bedelaars behandel en oor en oor vir haar gesê dat sy net ’n las vir hulle is. Sowbhagya het vertroosting gesoek, en daarom het sy na ’n plaaslike kerk toe gegaan. Maar die mense daar het op haar neergesien omdat sy arm was. Sowbhagya het werk begin soek sodat sy vir haar en haar dogter kon sorg. Maar maak nie saak hoe hard sy probeer het nie, sy kon nie werk kry nie.

 Sowbhagya sê: “Ek het moedeloos gevoel, en daarom het ek besluit om selfmoord te pleeg. Maar ek het geweet dat my dogter sonder my baie probleme sou hê. So ek het toe besluit om albei ons lewens te neem.” Omdat sy waardeloos gevoel het en gedink het dat niemand vir haar lief is nie, het sy gif gaan koop.

 Terwyl Sowbhagya met die trein teruggegaan het huis toe, het een van Jehovah se Getuies met die naam Elizabeth haar genader en met haar begin praat. Sowbhagya het verduidelik dat sy nie werk het nie, en Elizabeth het vriendelik aangebied om haar te help om ’n werk te kry. Elizabeth het ook genoem dat sy op pad was na ’n Bybelstudie. Sowbhagya was verbaas, want al het sy baie kerke besoek, het sy nooit gehoor dat mense die Bybel studeer nie. Elizabeth het Sowbhagya genooi om by haar te kom kuier om meer uit te vind oor ’n Bybelstudie.

 Toe Sowbhagya by die huis kom, was sy nog steeds van plan om selfmoord te pleeg. Maar Meghana het saam met ’n familielid op reis gegaan, so Sowbhagya het besluit om te wag totdat haar dogtertjie terugkom voordat sy haar plan uitvoer.

 Intussen het sy Elizabeth besoek, wat haar vriendelik ontvang het. Gedurende die besoek het Elizabeth vir haar die boek Wat leer die Bybel werklik? gewys. Sowbhagya wou meer leer oor die hoofstuk “Waar is die dooies?” Sy het veral in hierdie hoofstuk belanggestel omdat haar man onlangs oorlede is. Sowbhagya het daardie selfde dag ’n Bybelstudie aanvaar.

 Elizabeth het Sowbhagya na ’n streekbyeenkoms genooi wat die volgende week gehou sou word, en sy het die uitnodiging aanvaar. Sy was so aangemoedig deur die program dat sy besluit het dat sy een van Jehovah se Getuies wou word. En toe sy terugkeer huis toe ná die streekbyeenkoms, was sy ’n werk aangebied.

 Sowbhagya het aangehou om die Bybel te studeer. Maar in plaas daarvan dat sy haar lewe wou neem, het sy nou iets gehad om voor te lewe. Sy is gedoop, en later is haar dogter, Meghana, ook gedoop. Vandag dien albei as gewone pioniers, en Meghana werk as ’n afstandsvrywilliger vir een van die vertaalkantore in Indië.

Sowbhagya en Meghana vandag

 Sowbhagya en Meghana is baie dankbaar dat Elizabeth haar op die trein genader het, belangstelling gewys het en met haar oor die waarheid gepraat het! Hulle is ook baie dankbaar teenoor Jehovah. Meghana sê: “Teen hierdie tyd sou ons albei lankal dood gewees het as ons nie daardie dag van die waarheid geleer het nie. Ons is nou so gelukkig. Ek en my ma kan nie wag vir die oomblik wanneer ons my pa weer ’n drukkie kan gee, hom van Jehovah kan leer en hom kan vertel hoe Jehovah ons lewens gered het nie.”