Genesis 7:1-24

  • Hulle gaan in ark in (1-10)

  • Wêreldwye Vloed (11-24)

7  Daarna het Jehovah vir Noag gesê: “Gaan in die ark in, jy en jou hele gesin. Want jy is die enigste een van hierdie geslag wat regverdig is in my oë.+  Jy moet sewe van elke soort rein dier*+ saam met jou neem, die mannetjie en die wyfie, en net twee van elke soort onrein dier, die mannetjie en die wyfie,  en ook sewe van elke soort vlieënde dier van die hemel,* mannetjie en wyfie, sodat hulle kan bly lewe en ’n nageslag op die hele aarde kan hê.+  Want oor net sewe dae sal ek dit 40 dae en 40 nagte+ op die aarde laat reën,+ en ek sal elke lewende wese wat ek gemaak het, van die oppervlak van die aarde af wegvee.”+  Toe het Noag alles gedoen wat Jehovah hom beveel het.  Noag was 600 jaar oud toe die vloedwaters oor die aarde gekom het.+  Voordat die vloedwaters gekom het, het Noag saam met sy seuns, sy vrou en sy seuns se vrouens in die ark ingegaan.+  Van elke soort rein dier en van elke soort onrein dier en van elke soort vlieënde dier en van alles wat op die aarde rondbeweeg,+  het daar twee na Noag toe in die ark ingegaan, mannetjie en wyfie, net soos God Noag beveel het. 10  Sewe dae later het die vloedwaters toe oor die aarde gekom. 11  In die 600ste jaar van Noag se lewe, in die tweede maand, op die 17de dag van die maand, op daardie dag, het al die fonteine van die groot waterdieptes oopgebars en is die sluise van die hemel oopgemaak.+ 12  En die reën het 40 dae en 40 nagte op die aarde neergestort. 13  Op daardie selfde dag het Noag saam met sy seuns, naamlik Sem, Gam en Jafet,+ sowel as sy vrou en die drie vrouens van sy seuns+ in die ark ingegaan. 14  Hulle het ingegaan saam met al die diere volgens hulle soorte: die wilde diere, die mak diere, die kruipende diere van die aarde en die vlieënde diere, dit wil sê elke voël en elke ander dier met vlerke. 15  Twee van elke soort dier wat die asem* van die lewe het, het na Noag in die ark bly gaan. 16  Hulle het ingegaan, mannetjie en wyfie van elke soort vlees, net soos God Noag beveel het. Daarna het Jehovah die deur agter hom toegemaak. 17  Dit het 40 dae lank op die aarde gereën. Die waters het al hoe meer geword, en die ark het begin dryf, en die ark het uiteindelik hoog bo die aarde gedryf. 18  Die waters op die aarde het al hoe meer geword en bly styg, maar die ark het op die waters gedryf. 19  Die waters op die aarde het so hoog gestyg dat al die hoë berge onder die hemel bedek is.+ 20  Die waters het tot 15 el* bo die berge gestyg. 21  En alle lewende wesens wat op die aarde rondbeweeg het, het doodgegaan+ – die vlieënde diere, die mak diere, die wilde diere, al die ander diere en al die mense.+ 22  Alles op die droë grond wat die asem* van die lewe het, het gesterf.+ 23  So het Hy elke lewende ding van die oppervlak van die aarde af weggevee, insluitende die mense, die diere, die kruipende diere en die vlieënde diere van die hemel. Hulle is almal van die aarde af weggevee.+ Net Noag en dié wat saam met hom in die ark was, het bly lewe.+ 24  En die waters het die aarde 150 dae lank bedek.+

Voetnote

Of moontlik “sewe pare van elke rein dier”.
Of moontlik “sewe pare van elke vlieënde dier van die hemel”.
Of “gees”.
’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
Of “gees”.