Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS JY IN BEHEER VAN JOU LEWE?

Die uitdaging: Oorweldigende eise

Die uitdaging: Oorweldigende eise

DIE kinders het onmiddellik jou aandag nodig. Jou werkgewer ook. Die telefoon lui, en dit is jou huweliksmaat. En dan probeer jy ook nog na jou sieklike ouer omsien. Dit is nie die lewe wat jy in gedagte gehad het nie, maar dit is hoe dit elke dag gaan. “Wat kan ek doen?”, vra jy. “Daar is mense wat my nodig het!” Om alles te doen wat hulle van jou vra, is dalk nie in jou belang—of in hulle belang—nie. Hoe kan jy weer beheer oor jou lewe kry?

BYBELVOORBEELD: MOSES

Toe Moses in Bybeltye die enigste regter van Israel was, het hy dalk gedink dat hy eenvoudig doen wat nodig is. Maar sy skoonvader het vir hom gesê: “Die manier waarop jy te werk gaan, is nie goed nie. Jy sal gewis uitgeput raak.” Hy het voorgestel dat Moses bekwame manne aanstel om oor die volk reg te spreek, en hulle moes net die moeilikste sake voor Moses bring. Wat was die gevolg? Moses se skoonvader het hom verseker: “Dan sal jy dit beslis kan uithou en sal hierdie hele volk boonop in vrede na hulle plek gaan.”—Eksodus 18:17-23.

WAT DELINA DOEN

Soos ons in die eerste artikel gemeld het, ly Delina aan distonie, ’n neuromuskulêre siekte. Sy sien ook om na haar drie gestremde broers. “Ek het gevind dat dit my stres verminder om een dag op ’n slag aan te pak en om dinge nie uit te stel nie”, sê sy. “Om openlik oor my situasie te praat, het daartoe gelei dat ander, insluitende my man, hulle hulp aanbied. Ek sit ook elke dag tyd opsy om ’n bietjie tuin te maak—iets wat ek baie geniet.”

“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd.”Prediker 3:1

WAT JY KAN DOEN

As oorweldigende eise jou lewe beheer, kan jy die volgende probeer:

  • Probeer iemand vind wat jou kan help. Het jy byvoorbeeld kinders wat nog in die huis is? Of is daar familielede of vriende wat naby jou woon?

  • Sê vir ander watter hulp jy nodig het. Praat byvoorbeeld met jou werkgewer as hy te veel van jou verwag. Dit beteken nie dat jy moet dreig om jou werk te los nie. Maak hom net bewus van die probleme waarmee jy te kampe het. Hy sal dalk bereid wees om jou werklas te verminder.

  • Maak ’n lys van alles wat jy in ’n week moet doen. Is daar enigiets wat jy iemand anders kan vra om te doen?

  • Moenie alle sosiale uitnodigings aanvaar nie. As jy ’n geleentheid nie kan bywoon nie omdat jy te besig of te moeg is, moet jy op ’n vriendelike wyse nee sê.

Die slotsom: As jy alles probeer doen, sal jy dalk op die ou end niks kan doen nie.