Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Wanneer jy moet terugtrek huis toe

Wanneer jy moet terugtrek huis toe

DIE UITDAGING

Hulle word “die boemeranggenerasie” genoem—jong volwassenes wat die huis verlaat en op hulle eie probeer woon het, maar finansiële probleme ondervind het en huis toe moes terugtrek. Het dit al met jou gebeur?

Al het jy jou ma en pa lief, kan dit moeilik wees om huis toe terug te trek. Byvoorbeeld, ’n jong vrou met die naam Sarah * sê: “Om op my eie te woon, het my groter selfvertroue gegee omdat dit nie nodig was om op ander staat te maak nie. Maar om terug te trek huis toe, het my weer soos ’n kind laat voel.” ’n Jong man met die naam Richard het ook so gevoel. “Ek wou nie teruggaan huis toe nie”, sê hy, “maar ek kon myself nie onderhou nie. Ek het soos ’n mislukking gevoel.”

As jy in so ’n situasie is, kan hierdie artikel jou help om weer op die been te kom.

WAAROM DIT GEBEUR

Geldsake. Baie jongmense is geskok wanneer hulle uit die huis trek en besef hoe duur die lewe is. “Ek moes al my spaargeld gebruik om myself te onderhou”, sê Richard, wat vroeër aangehaal is. Shaina, ’n jong vrou wat die huis op 24-jarige ouderdom verlaat het en ’n jaar en ’n half later teruggetrek het, was in ’n soortgelyke situasie. “Ek kon my finansies beter bestuur het”, erken sy. “Ek het die huis sonder geld verlaat, en toe ek teruggekeer het, was ek diep in die skuld.” *

Werkloosheid. As jy jou werk verloor, kan dit selfs jou beste planne om op jou eie te woon, omverwerp—iets wat Shaina uitgevind het. “Ek het ’n mediese kursus voltooi en by ’n agentskap aangesluit wat my gehelp het om werk te vind”, sê sy. “Maar toe ek my werk verloor het, was ek in ’n moeilike situasie. Ek het in die platteland gewoon waar daar geen ander werksgeleenthede in my veld was nie!”

Onrealistiese verwagtinge. Party jong volwassenes betree die arbeidsmark en besef nie wat dit verg om ’n bestaan te maak nie. Hulle werk is dikwels moeiliker as wat hulle verwag het. Tot hulle onsteltenis besef hulle dat die onafhanklikheid waarna hulle so uitgesien het, nie so glansryk is nie. Hulle het beslis nie verwag dat die volwasse lewe so moeilik sou wees nie.

WAT JY KAN DOEN

Praat met jou ouers oor die feit dat jy huis toe wil terugtrek. Bespreek dinge soos die volgende: Hoe lank sal jy by die huis moet woon? Hoe sal jy tot huishoudelike uitgawes bydra terwyl jy daar woon? Watter huishoudelike take sal jy doen? Watter stappe sal jy doen om weer finansieel onafhanklik te word? Ongeag hoe oud jy is, onthou dat jy weer onder jou ouers se dak is en dat jy hulle reëls moet gehoorsaam.Bybelbeginsel: Eksodus 20:12.

Leer om met geld te werk. Die boek The Complete Guide to Personal Finance: For Teenagers and College Students sê: “Om jou geld goed te bestuur, het baie te doen met hoe jy dit spandeer. . . . Die grondbeginsel om nie jou geld te spandeer op dinge wat jy nie nodig het nie, is ’n noodsaaklike beginsel om te begryp.”Bybelbeginsel: Lukas 14:28.

Kry betroubare raad. Jou ouers of ander volwassenes kan jou help om praktiese vaardighede aan te leer, soos om jou banksake te bestuur, ’n begroting uit te werk en rekeninge te betaal. “Ek moes na die basiese dinge terugkeer”, sê ’n jong vrou met die naam Marie. “’n Vriend het my gehelp om ’n lysie te maak van nodige en onnodige uitgawes. Ek kon dit nie glo nie—die meeste van my uitgawes was heeltemal onnodig! Ek het ook geleer hoe om ’n eienskap aan te kweek wat noodsaaklik is as jy op jou eie wil woon—selfdissipline.”Bybelbeginsel: Spreuke 13:10.

Dit gaan nie net oor wat jy doen nie, maar hoe jy dit doen—om bekwaam te word in wat jy doen

Doen stappe om werk te soek. Gebruik die tyd wat jy in ’n dag sou gewerk het, om werk te soek. ’n Waarskuwing: Party mense sal vir jou sê om “jou drome te volg” wanneer dit by jou loopbaan kom. Maar om na jou ‘droomloopbaan’ te soek, sal jou waarskynlik minder opsies gee en jou verblind vir werksgeleenthede wat reg voor jou is! Moenie tyd mors deur op ’n spesifieke soort werk te konsentreer nie; hou eerder jou opsies oop. Onthou, dit gaan nie net oor wat jy doen nie, maar hoe jy dit doen—om bekwaam te word in wat jy doen. Trouens, daar is opgemerk dat hoe meer ondervinding en vaardigheid werkers verkry, hoe meer geniet hulle hulle werk. Jy hoef nie te doen waarvoor jy lief is om lief te wees vir wat jy doen nie!

^ par. 5 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 8 Universiteitstudente in die Verenigde State kom dikwels voor ’n soortgelyke dilemma te staan. Volgens ’n verslag in The Wall Street Journal het ’n student wat ’n lening uitgeneem het, gemiddeld R400 000 se skuld teen die tyd dat hy gradueer.