Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is . . . en handel met getrouheid.”—PS. 37:3.

LIEDERE: 133, 63

1. Met watter merkwaardige vermoëns het Jehovah mense geskep?

JEHOVAH het mense met merkwaardige vermoëns geskep. Hy het ons denkvermoë gegee sodat ons probleme kan oplos en vir die toekoms kan beplan (Spr. 2:11). Hy het ons die vermoë gegee om ons planne uit te voer en ons doelwitte te bereik (Fil. 2:13). Hy het ons ook geskep met ’n gewete—’n ingebore sin vir reg en verkeerd—wat ons kan help om oortreding te vermy en ons foute reg te stel.—Rom. 2:15.

2. Hoe verwag Jehovah moet ons ons vermoëns gebruik?

2 Jehovah verwag dat ons ons vermoëns goed moet gebruik. Waarom? Omdat hy vir ons lief is en weet dat dit ons gelukkig maak wanneer ons hierdie gawes gebruik. Deur middel van sy Woord vermaan Jehovah ons herhaaldelik om ons vermoëns op die regte manier te gebruik. Ons lees byvoorbeeld in die Hebreeuse Geskrifte: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel”; en “alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag” (Spr. 21:5; Pred. 9:10). In die Christelike Griekse Geskrifte lees ons: “Solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen”; en “na die mate waarin elkeen ’n gawe ontvang het, moet julle dit gebruik om mekaar te dien” (Gal. 6:10; 1 Pet. 4:10). Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat ons moet doen wat ons kan om onsself en ander te bevoordeel.

3. Watter beperkings het mense?

3 Jehovah weet egter dat mense beperkings het. Op ons eie kan ons nooit ontslae raak van onvolmaaktheid, sonde en die dood nie; ons kan ook nie ander mense beheer nie, want almal het wilsvryheid (1 Kon. 8:46). En maak nie saak hoeveel kennis of ondervinding ons opdoen nie, ons sal altyd soos kinders wees in vergelyking met Jehovah.—Jes. 55:9.

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is” wanneer jy probleme ervaar

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Ons moet onder alle omstandighede op Jehovah staatmaak vir leiding en vertrou dat hy ons sal ondersteun en vir ons sal doen wat ons nie self kan doen nie. Terselfdertyd moet ons doen wat ons kan om probleme op te los en ander te help. (Lees Psalm 37:3.) Ons moet dus “vertrou op Jehovah” sowel as “doen wat goed is”; ons moet “handel met getrouheid”. Kom ons kyk wat ons in dié verband kan leer uit die voorbeeld van Noag, Dawid en ander getroue knegte van God wat op Jehovah vertrou het en wat op ’n gepaste wyse gehandel, of opgetree, het. Soos ons sal sien, het dit behels dat hulle moes onderskei tussen wat hulle nie kon doen nie en wat hulle kon doen. Dan moes hulle daarvolgens optree.

IN ’N GODDELOSE WÊRELD

5. Wat was die situasie in Noag se dag?

5 Noag het in ’n wêreld “vol geweld” en onsedelikheid gelewe (Gen. 6:4, 9-13). Hy het geweet dat Jehovah daardie goddelose wêreld uiteindelik sou vernietig. Maar ons kan seker wees dat die goddeloosheid Noag ontstel het. Noag het besef dat daar in hierdie situasie dinge was wat hy nie kon doen nie, maar dat daar ander dinge was wat hy kon doen.

Teenstand in die predikingswerk (Sien paragraaf 6-9)

6, 7. (a) Wat kon Noag nie doen nie? (b) In watter opsigte kom ons situasie met Noag s’n ooreen?

6 Wat Noag nie kon doen nie: Al het Noag Jehovah se waarskuwingsboodskap getrou verkondig, kon hy die goddelose mense om hom nie dwing om daardie boodskap te aanvaar nie. Hy kon ook nie die Vloed vroeër laat kom nie. Noag moes die vertroue hê dat Jehovah Sy belofte sou hou om goddeloosheid tot ’n einde te bring en dat God dit op presies die regte tyd sou doen.—Gen. 6:17.

7 Ons lewe ook in ’n wêreld vol goddeloosheid en ons weet dat Jehovah belowe het om dit te vernietig (1 Joh. 2:17). Intussen kan ons mense nie dwing om die “goeie nuus van die koninkryk” te aanvaar nie. En ons kan niks doen om die “groot verdrukking” gouer te laat begin nie (Matt. 24:14, 21). Soos Noag het ons sterk geloof nodig en moet ons vertrou dat God binnekort sal optree (Ps. 37:10, 11). Ons is daarvan oortuig dat Jehovah hierdie goddelose wêreld nie eers een dag langer sal laat bestaan as wat nodig is nie.—Hab. 2:3.

8. Waarop het Noag gekonsentreer? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Wat Noag kon doen: Noag het nie moed opgegee omdat daar dinge was wat hy nie kon doen nie; hy het eerder gekonsentreer op wat hy kon doen. As “’n prediker van regverdigheid” het Noag Jehovah se waarskuwingsboodskap getrou verkondig (2 Pet. 2:5). Dit het Noag ongetwyfeld gehelp om sy geloof sterk te hou. Hy het nie net gepreek nie; hy het ook sy fisiese en verstandelike vermoëns gebruik om ’n ark te bou, soos God hom gevra het.—Lees Hebreërs 11:7.

9. Hoe kan ons Noag se voorbeeld navolg?

9 Soos Noag probeer ons om “baie . . . in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Ons kan byvoorbeeld help om plekke van aanbidding te bou en in stand te hou. Of ons kan as ’n vrywilliger by byeenkomste dien of ons kan by ’n takkantoor of vertaalkantoor werk. Ons bly bowenal besig in die predikingswerk, wat ons hoop vir die toekoms versterk. ’n Getroue suster het dit so gestel: “Wanneer jy met ander oor die seëninge van God se Koninkryk praat, besef jy dat hulle geen hoop het nie en dink dat daar geen oplossing vir hulle probleme is nie.” Ja, die predikingswerk versterk ons hoop vir die toekoms en dit help ons om in die wedloop om die lewe te bly.—1 Kor. 9:24.

WANNEER ONS SONDIG

10. Beskryf die situasie waarin Dawid hom bevind het.

10 Jehovah het koning Dawid as “’n man na [sy] hart” beskryf (Hand. 13:22). Dawid was ’n getroue man, en tog het hy ernstige sondes gepleeg. Hy het egbreuk met Batseba gepleeg. Nog erger, hy het sy sonde probeer wegsteek deur te reël dat haar man, Uria, in ’n geveg sterf. Dawid het selfs so ver gegaan as om Uria die brief te laat aflewer wat die instruksies vir sy dood bevat het! (2 Sam. 11:1-21). Uiteindelik het Dawid se sondes aan die lig gekom (Mark. 4:22). Hoe het Dawid hierop gereageer?

Sondes van die verlede (Sien paragraaf 11-14)

11, 12. (a) Wat kon Dawid nie doen nadat hy gesondig het nie? (b) Wat sal Jehovah vir ons doen as ons berou het nadat ons ernstige sondes gepleeg het?

11 Wat Dawid nie kon doen nie: Dawid kon nie sy sondes ongedaan maak nie. En hy kon nie die gevolge van sy sondes vryspring nie. Om die waarheid te sê, Dawid sou vir die res van sy lewe party van hierdie gevolge dra (2 Sam. 12:10-12, 14). Hy het dus geloof nodig gehad. Hy moes die vertroue hê dat Jehovah hom sou vergewe as hy waarlik berouvol was en hom sou help om die gevolge van sy dade te dra.

12 Ons is almal onvolmaak, en daarom sondig ons. Party sondes is ernstiger as ander. Soms sal ons nie ons foute ongedaan kan maak nie. Dan sal ons eenvoudig met die gevolge moet saamleef (Gal. 6:7). Maar ons vertrou Jehovah se belofte dat hy ons deur moeilike tye sal ondersteun as ons berouvol is—al het ons dit oor onsself gebring.—Lees Jesaja 1:18, 19; Handelinge 3:19.

13. Hoe het Dawid geestelik herstel?

13 Wat Dawid kon doen: Dawid het Jehovah toegelaat om hom te help om geestelik te herstel. Hy het dit gedoen deur teregwysing van Jehovah se verteenwoordiger, die profeet Natan, te aanvaar (2 Sam. 12:13). Dawid het ook tot Jehovah gebid, sy sondes bely en ’n opregte begeerte uitgespreek om weer Jehovah se guns te geniet (Ps. 51:1-17). Dawid het nie toegelaat dat skuldgevoelens hom oorweldig nie. Hy het uit sy foute geleer. Hy het nooit weer daardie ernstige sondes gepleeg nie. Hy het jare later getrou gesterf, en Jehovah onthou sy rekord van getrouheid.—Heb. 11:32-34.

14. Wat kan ons uit Dawid se voorbeeld leer?

14 Wat kan ons uit Dawid se voorbeeld leer? As ons ’n ernstige sonde pleeg, moet ons opregte berou toon en Jehovah vra om ons te vergewe. Ons moet ons sondes aan hom bely (1 Joh. 1:9). Ons moet ook met die ouer manne praat, wat ons geestelik kan help. (Lees Jakobus 5:14-16.) As ons gebruik maak van Jehovah se voorsienings, toon ons vertroue in sy belofte om ons te genees en te vergewe. Ons moet ook leer uit ons foute, aanhou om Jehovah te dien en met vertroue na die toekoms uitsien.—Heb. 12:12, 13.

IN ANDER SITUASIES

Gesondheidsprobleme (Sien paragraaf 15)

15. Wat leer ons uit Hanna se voorbeeld?

15 Jy kan waarskynlik dink aan ander getroue knegte in die ou tyd wat op Jehovah vertrou het en op ’n gepaste wyse opgetree het. Hanna kon byvoorbeeld niks omtrent haar onvrugbaarheid doen nie. Maar sy het die vertroue gehad dat Jehovah haar sou vertroos. Daarom het sy aangehou om by die tabernakel te aanbid en haar hart in gebed uit te stort (1 Sam. 1:9-11). Is dit nie ’n goeie voorbeeld vir ons nie? Wanneer ons gesondheidsprobleme of ander probleme het waaroor ons nie beheer het nie, moet ons ons sorge op Jehovah werp en vertrou dat hy vir ons omgee (1 Pet. 5:6, 7). Ons doen ook alles in ons vermoë om baat te vind by Christelike vergaderinge en ander geestelike voorsienings.—Heb. 10:24, 25.

Kinders wat Jehovah nie meer dien nie (Sien paragraaf 16)

16. Wat kan ouers by die bejaarde Samuel leer?

16 Wat van getroue ouers wie se kinders Jehovah nie meer dien nie? Die bejaarde Samuel kon sy volwasse seuns nie dwing om by die regverdige standaarde te bly wat hy hulle geleer het nie (1 Sam. 8:1-3). Hy moes die saak in Jehovah se hande laat. Maar Samuel kon wel lojaal bly en sy hemelse Vader, Jehovah, se hart bly maak (Spr. 27:11). Daar is vandag Christenouers wat hulle in dieselfde situasie bevind. Hulle vertrou dat Jehovah, soos die vader in die gelykenis van die verlore seun, altyd op die uitkyk is na berouvolle sondaars en hulle wil terugverwelkom (Luk. 15:20). Terselfdertyd doen hierdie ouers hulle bes om lojaal aan Jehovah te bly, en hulle hoop dat hulle voorbeeld hulle kinders sal beweeg om na Jehovah terug te keer.

Finansiële probleme (Sien paragraaf 17)

17. Waarom is die voorbeeld van die behoeftige weduwee aanmoedigend?

17 Dink ook aan die behoeftige weduwee in Jesus se dag. (Lees Lukas 21:1-4.) Sy kon niks doen omtrent die verkeerde dinge wat by die tempel gebeur het nie (Matt. 21:12, 13). En daar was waarskynlik nie veel wat sy kon doen om haar finansiële situasie te verbeter nie. En tog was sy bereid om daardie “twee muntstukkies” by te dra, al was dit al wat sy gehad het. Hierdie getroue vrou het met haar hele hart op Jehovah vertrou. Sy het geweet dat Jehovah in haar fisiese behoeftes sal voorsien as sy geestelike dinge eerste stel. Omdat die weduwee op God vertrou het, het sy die reëling vir ware aanbidding ondersteun. Dieselfde geld vir ons. Ons het die vertroue dat Jehovah sal voorsien wat ons nodig het as ons eers die Koninkryk soek.—Matt. 6:33.

18. Gee ’n voorbeeld van ’n broer wat die regte gesindheid gehad het.

18 Vandag toon baie van ons medegelowiges soortgelyke vertroue in Jehovah, en terselfdertyd tree hulle op gepaste wyse op. Neem byvoorbeeld ’n broer met die naam Malcolm, wat tot sy dood in 2015 getrou gebly het. Hy en sy vrou het Jehovah jare lank gedien en het goeie en slegte tye ervaar. “Die lewe is soms onvoorspelbaar, onseker en selfs moeilik”, het hy gesê. “Maar Jehovah seën diegene wat op hom steun.” Wat was Malcolm se raad? “Bid dat jy so produktief en bedrywig as moontlik in Jehovah se diens kan wees. Konsentreer op wat jy kan doen, nie op wat jy nie kan doen nie.” *

19. (a) Waarom is ons jaarteks vir 2017 gepas? (b) Hoe sal jy die jaarteks vir 2017 in jou lewe toepas?

19 Hierdie stelsel van dinge versleg, en daarom kan ons verwag om al hoe meer probleme te ervaar (2 Tim. 3:1, 13). Dit is dus belangriker as ooit tevore om nie toe te laat dat hierdie probleme ons onderkry nie. Ons moet eerder ten volle op Jehovah vertrou en terselfdertyd op gepaste wyse optree. Daarom is ons jaarteks vir 2017: “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”!—Ps. 37:3.

Ons jaarteks vir 2017: “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is.”—Psalm 37:3