Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan beskeie bly—Selfs wanneer dit moeilik is

Jy kan beskeie bly—Selfs wanneer dit moeilik is

“Wandel [beskeie] met jou God.”—MIGA 6:8.

LIEDERE: 48, 95

1-3. Wat het die jong profeet van Juda nie gedoen nie, en wat was die gevolg? (Sien prent aan begin van artikel.)

GEDURENDE koning Jerobeam se heerskappy het Jehovah ’n profeet van Juda gestuur om ’n oordeelsboodskap aan daardie afvallige koning van Israel oor te dra. Die nederige profeet het God se boodskap getrou oorgedra, en Jehovah het sy kneg teen Jerobeam se gewelddadige woede beskerm.—1 Kon. 13:1-10.

2 Op pad huis toe het die profeet onverwags ’n ou man van die nabygeleë Bet-El teëgekom. Die man het gesê dat hy ’n profeet van Jehovah is. Hy het die jonger man mislei om Jehovah se uitdruklike instruksies te ignoreer om nie in Israel ‘brood te eet of water te drink nie’ en om ‘nie weer terug te gaan met die pad waarmee hy gegaan het nie’. Jehovah was ontevrede met die jong profeet. Toe hy later op pad huis toe was, het ’n leeu hom op die pad gekry en hom doodgemaak.—1 Kon. 13:11-24.

3 Hierdie profeet was vroeër beskeie. Waarom het hy vermetel opgetree en na die bedrieglike ou man geluister? Die Bybel sê nie. Maar dalk het hy heeltemal vergeet dat hy veronderstel is om beskeie ‘te wandel met God’. (Lees Miga 6:8.) Om met Jehovah te wandel, beteken dat ’n mens op hom vertrou, sy soewereiniteit ondersteun en sy leiding volg. ’n Beskeie persoon weet dat hy gedurig met sy liefdevolle en almagtige Vader kan en moet kommunikeer. Die profeet kon Jehovah gevra het of sy instruksies verander het, maar die Bybel sê nie dat hy dit gedoen het nie. Soms kom ons ook voor moeilike besluite te staan, en ons weet dalk nie wat die regte besluit sal wees nie. As ons beskeie is en Jehovah se leiding soek, kan dit ons help om groot foute te vermy.

4. Wat sal ons in hierdie artikel leer?

4 In die vorige artikel het ons geleer wat beskeidenheid beteken en waarom dit nog steeds vir Christene belangrik is. Maar watter situasies kan dit vir ons moeilik maak om beskeie te bly? En hoe kan ons hierdie goeie eienskap aankweek sodat ons beskeie sal bly selfs wanneer dit moeilik is? Om hierdie vrae te beantwoord, sal ons drie algemene situasies bespreek wat dit vir ons moeilik kan maak om beskeie te bly. Ons sal ook sien hoe ons in elke situasie verstandig kan optree.—Spr. 11:2.

WANNEER ONS OMSTANDIGHEDE VERANDER

5, 6. Hoe het Barsillai getoon dat hy beskeie is?

5 Veranderinge in ons omstandighede of toewysing kan dit vir ons moeilik maak om beskeie te bly. Toe Dawid die 80-jarige Barsillai genooi het om in die koningshuis te woon, was dit sekerlik vir Barsillai ’n groot eer. As hy Dawid se uitnodiging aanvaar het, sou hy kon voortgaan om die koning se geselskap te geniet. Maar Barsillai het die uitnodiging van die hand gewys. Waarom? Hy was al bejaard en het vir Dawid gesê dat hy nie ’n las vir die koning wou word nie. Barsillai het dus voorgestel dat Kimham, wat waarskynlik een van sy seuns was, in sy plek gaan.—2 Sam. 19:31-37.

6 Beskeidenheid het Barsillai gehelp om ’n verstandige besluit te neem. Hy het nie Dawid se uitnodiging van die hand gewys omdat hy nie die verantwoordelikheid wou hê of omdat hy ’n rustige oudag wou geniet nie. Hy het bloot sy veranderende omstandighede en sy beperkings erken en aanvaar. Hy wou nie meer verantwoordelikheid op hom neem as wat hy sou kon dra nie. (Lees Galasiërs 6:4, 5.) As posisie, vernaamheid of erkenning vir ons belangrik is, sal dit net lei tot egotisme, wedywering en uiteindelik tot teleurstelling (Gal. 5:26). Maar as ons beskeie is, sal ons saam met ons broers werk om God te verheerlik en ander te help.—1 Kor. 10:31.

7, 8. Hoe kan beskeidenheid ons help om nie op onsself te vertrou nie?

7 As ’n persoon groter verantwoordelikheid kry, kry hy dikwels meer gesag, wat dit moeilik kan maak om beskeie te bly. Toe Nehemia gehoor het van die probleme wat die inwoners van Jerusalem ervaar het, het hy vurig tot Jehovah gebid (Neh. 1:4, 11). Jehovah het sy gebed verhoor. Koning Artasasta het Nehemia as goewerneur oor die gebied aangestel. Maar al het Nehemia ’n hoë posisie, rykdom en groot gesag gehad, het hy nooit op sy eie ondervinding of vermoëns vertrou nie. Hy het met God bly wandel. Hy het Jehovah se leiding voortdurend gesoek deur God se Wet te raadpleeg (Neh. 8:1, 8, 9). Nehemia het nie oor ander baasgespeel nie. Hy het hulle gedien sonder om homself te probeer bevoordeel.—Neh. 5:14-19.

8 Nehemia se voorbeeld toon hoe beskeidenheid ons kan help om nie op onsself te vertrou wanneer ons ’n ander toewysing of meer verantwoordelikheid ontvang nie. As ’n ouer man net op sy eie ondervinding staatmaak, kan hy na gemeentelike sake begin omsien sonder om Jehovah eers in gebed te nader. Party neem dalk eers ’n besluit en vra Jehovah daarna om hulle besluit te seën. Maar is dit beskeie? ’n Beskeie persoon sal altyd onthou wat sy posisie voor God en sy rol in God se reëling is. Ons moenie staatmaak op ons eie vermoëns nie. Veral as ons te doen het met ’n situasie of probleem wat ons al voorheen hanteer het, moet ons versigtig wees om nie op onsself te vertrou nie. (Lees Spreuke 3:5, 6.) As lede van God se huisgesin streef ons nie vernaamheid of ’n posisie na nie. Ons konsentreer eerder daarop om ons rol in ons gesin of gemeente te vervul.—1 Tim. 3:15.

WANNEER ONS GEKRITISEER OF GEPRYS WORD

9, 10. Hoe kan beskeidenheid ons help wanneer iemand ons sonder rede kritiseer?

9 Dit kan ons ontstel wanneer iemand ons sonder rede kritiseer. Hanna het dikwels gehuil omdat Peninna, haar man se ander vrou, haar sonder ophou getart het. Hanna se man was lief vir haar, maar sy was onvrugbaar. Toe sy eendag by die tabernakel gebid het, het die hoëpriester Eli haar verkeerdelik daarvan beskuldig dat sy dronk is. Dink net hoe sy gevoel het! Maar Hanna was beskeie. Sy het nie kwaad geword nie en het Eli respekvol geantwoord. Later het Hanna in gebed haar geloof in Jehovah sowel as haar waardering en liefde vir hom uitgespreek. Haar roerende gebed is in die Bybel opgeteken.—1 Sam. 1:5-7, 12-16; 2:1-10.

10 Beskeidenheid kan ons ook help om aan te hou “om die kwaad met die goeie te oorwin” (Rom. 12:21). Die lewe in Satan se stelsel is dikwels onregverdig. Soms kan die optrede van kwaaddoeners ons woedend maak, maar ons moet hierteen stry (Ps. 37:1). Wanneer probleme tussen geestelike broers of susters ontstaan, kan dit baie meer ontstellend wees. ’n Beskeie persoon sal Jesus navolg. “Toe hy uitgeskel is,” sê die Bybel, “het hy nie terug uitgeskel nie . . . , maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:23). Jesus het geweet dat die wraak aan Jehovah behoort (Rom. 12:19). Christene word ook vermaan om nederig te wees en om “nie kwaad met kwaad [te] vergeld nie”.—1 Pet. 3:8, 9.

11, 12. (a) Hoe kan beskeidenheid ons help wanneer mense ons prys of vlei? (b) Hoe kan ons kleredrag en persoonsversorging sowel as ons gedrag toon dat ons beskeie is?

11 As ons te veel geprys of gevlei word, kan dit ook moeilik wees om beskeie te bly. Dink aan hoe Ester gereageer het toe haar omstandighede onverwags verander het. Sy was ’n pragtige jong vrou en het ’n jaar lank spesiale skoonheidsbehandeling ontvang. Sy was elke dag in die geselskap van ander jong vroue wat van oral in die Persiese Ryk bymekaargebring is en meegeding het om die koning se guns te verkry. Maar sy het respekvol en nederig gebly. Selfs nadat die koning haar gekies het om sy koningin te word, het sy nie hoogmoedig of onbeskeie geword nie.—Est. 2:9, 12, 15, 17.

Toon ons kleredrag en persoonsversorging dat ons Jehovah en ander respekteer of is dit onbeskeie? (Sien paragraaf 12)

12 As ons beskeie is, sal ons kleredrag, persoonsversorging en gedrag altyd gepas wees en toon dat ons ander respekteer. Ons besef dat mense vir ons lief word as ons ’n “stille en sagmoedige gees” openbaar en nie as ons spog of die aandag onnodig op onsself vestig nie. (Lees 1 Petrus 3:3, 4; Jer. 9:23, 24.) As ons te veel van onsself dink, sal dit uiteindelik in ons dade na vore kom. Byvoorbeeld, ons probeer dalk die indruk skep dat ons belangrik is omdat ons spesiale voorregte geniet, vertroulike inligting het of verantwoordelike broers goed ken. Of ons laat dit dalk lyk asof ons iets belangriks op ons eie gedoen het, al het ander dalk daarmee gehelp. Jesus het weer eens ’n wonderlike voorbeeld gestel. Hy het dikwels na die Hebreeuse Geskrifte verwys of daaruit aangehaal. Omdat hy beskeie was, wou hy hê dat mense moes weet dat sy woorde van Jehovah kom. Dit was nie sy eie wysheid of iets wat hy self uitgedink het nie.—Joh. 8:28.

WANNEER ONS ONSEKER IS

13, 14. Hoe kan beskeidenheid ons help om beter besluite te neem?

13 Dit kan ook moeilik wees om beskeie te bly wanneer ons besluite moet neem. Terwyl die apostel Paulus in Sesarea gebly het, het die profeet Agabus vir hom gesê dat hy in hegtenis geneem sou word as hy na Jerusalem gaan. Hy sou dalk selfs doodgemaak word. Die broers was bang dat dit sou gebeur en het Paulus gesmeek om nie te gaan nie. Maar Paulus was vasbeslote. Hy was nie verlam van vrees nie, maar hy het ook nie te veel selfvertroue gehad nie. Hy het ten volle op Jehovah vertrou en was bereid om sy toewysing uit te voer. Toe die broers dit hoor, was hulle beskeie en het hulle Paulus se besluit om na Jerusalem te gaan, aanvaar.—Hand. 21:10-14.

14 Beskeidenheid kan ons ook help om goeie besluite te neem wanneer ons nie weet of kan beheer hoe sake sal uitdraai nie. Byvoorbeeld, wat sal gebeur as ons die een of ander vorm van voltydse diens betree en dan siek word? Sê nou ons bejaarde ouers het ons hulp nodig? Hoe sal ons vir onsself sorg wanneer ons oud is? Maak nie saak hoeveel ons bid of hoeveel navorsing ons doen nie, ons sal nie ’n volledige antwoord op sulke vrae kry nie (Pred. 8:16, 17). Ons vertroue in Jehovah sal ons nie net help om te erken dat ons beperkings het nie, maar ook om dit te aanvaar. Nadat ons navorsing gedoen, ander se raad gevra en gebid het, moet ons in ooreenstemming met die leiding van God se gees optree. (Lees Prediker 11:4-6.) Jehovah kan ons besluite seën of hy kan ons help om ons doelwitte aan te pas.—Spr. 16:3, 9.

KWEEK BESKEIDENHEID AAN

15. Hoe kan bepeinsing oor Jehovah ons help om beskeie te bly?

15 Aangesien beskeidenheid groot voordele inhou, wil ons hierdie eienskap in groter mate aankweek. Kom ons bespreek vier maniere waarop ons dit kan doen. Eerstens, ons sal meer beskeie word en meer ontsag vir Jehovah hê as ons met waardering nadink oor sy verhewe eienskappe en posisie (Jes. 8:13). Onthou, ons wandel met die almagtige God, nie met ’n engel of ’n mens nie. Hierdie besef sal ons beweeg om ‘ons onder die magtige hand van God te verneder’.—1 Pet. 5:6.

16. Hoe kan bepeinsing oor God se liefde ons help om beskeie te bly?

16 Tweedens, as ons oor Jehovah se liefde peins, sal dit ons help om beskeidenheid aan te kweek. Die apostel Paulus het die gemeente met die menseliggaam vergelyk. Jehovah het elke deel van die liggaam met ’n doel gemaak (1 Kor. 12:23, 24). Ten spyte van ons beperkings is elkeen van ons dus waardevol vir Jehovah. Hy vergelyk ons nie met ander nie en hou nie op om vir ons lief te wees wanneer ons foute maak nie. Omdat Jehovah vir ons lief is, kan ons veilig voel waar ons hom ook al dien.

17. Hoe sal ons daarby baat vind as ons na die goeie in ander soek?

17 Derdens, ons sal meer beskeie wees as ons soos God na die goeie in ander soek. Ons sal nie in die kollig wil wees of altyd vir ander wil sê wat om te doen nie. Ons sal eerder beskeie wees deur ook ander se raad te vra en hulle voorstelle te aanvaar (Spr. 13:10). Ons sal saam met hulle bly wees wanneer hulle voorregte ontvang. En ons sal Jehovah loof wanneer ons sien hoe hy “die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld” seën.—1 Pet. 5:9.

18. Hoe kan ons ons gewete oplei?

18 Vierdens, ons sal meer beskeie wees as ons ons gewete volgens Bybelbeginsels oplei. As ons leer om Jehovah se beskouing van sake te hê, sal ons goeie oordeel aan die dag kan lê. As ons gereeld die Bybel studeer, bid en toepas wat ons leer, sal ons ons gewete geleidelik kan versterk (1 Tim. 1:5). Ons leer om ander eerste te stel. As ons ons deel doen, belowe Jehovah dat hy ons “opleiding [sal] voltooi” en ons sal help om beskeidenheid en ander goddelike eienskappe aan te kweek.—1 Pet. 5:10.

19. Wat sal ons help om vir ewig beskeie te bly?

19 Net een vermetele daad het die jong profeet uit Juda sy lewe en God se guns gekos. Maar ons kan beskeie bly, selfs wanneer dit moeilik is. Getroue knegte van God in die ou tyd en van vandag het bewys dat dit moontlik is. Hoe langer ons met Jehovah wandel, hoe meer beskeie behoort ons te word (Spr. 8:13). Ongeag wat ons rol in Jehovah se diens is, dit is ’n wonderlike en onvergelyklike voorreg om met hom te wandel. Waardeer hierdie voorreg, en doen jou bes om tot in alle ewigheid beskeie met Jehovah te wandel.