Spring na inhoud

Is Maria die moeder van God?

Is Maria die moeder van God?

Die Bybel se antwoord

 Nee. Die Bybel leer nie dat Maria die moeder van God is nie en dit sê ook nie dat Christene Maria a moet aanbid of vereer nie. Dink hieraan:

  •   Maria het nooit te kenne gegee dat sy die moeder van God is nie. Die Bybel verduidelik dat sy geboorte gegee het aan die “Seun van die Allerhoogste” of aan “God se Seun” en nie aan God self nie. — Lukas 1:32, 35.

  •   Jesus Christus het nooit gesê dat Maria die moeder van God is nie, en hy het ook nie gesê dat sy op ’n spesiale manier vereer moet word nie. Om die waarheid te sê, toe ’n vrou spesiale eer aan Maria se vreugdevolle rol as die moeder van Jesus gegee het, het Jesus haar reggehelp en gesê: “Nee, gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” — Lukas 11:27, 28.

  •   Die terme “Moeder van God” en “Theotokos” (Draer van God) word nie in die Bybel gevind nie.

  •   Die uitdrukking “Koningin van die hemel” in die Bybel verwys nie na Maria nie, maar eerder na ’n valse godin wat deur afvallige Israeliete aanbid was (Jeremia 44:15-19). Die “Koningin van die hemel” was miskien Isjtar (Astarte), ’n Babiloniese godin.

  •   Vroeë Christene het Maria nie aanbid nie, en hulle het ook nie spesiale eer aan haar gegee nie. Een geskiedkundige sê dat vroeë Christene ‘vreemde godsdienste sou verwerp en heel moontlik bang was dat ander agterdogtig sou word en dink dat hulle godinne aanbid as hulle te veel aandag aan Maria gegee het.’ — In Quest of the Jewish Mary.

  •   Die Bybel sê dat God nog altyd bestaan (Psalm 90:1, 2; Jesaja 40:28). Aangesien hy nie ’n begin gehad het nie kan hy nie ’n moeder hê nie. Maria kon God nie in haar baarmoeder dra nie, want die Bybel sê duidelik dat nie eers die hemele hom kan bevat nie. — 1 Konings 8:27.

Maria — Die moeder van Jesus nie die “Moeder van God” nie

 Maria is as ’n Jood gebore, en sy was ’n direkte nakomeling van koning Dawid (Lukas 3:23-31). Sy was vir God baie waardevol as gevolg van haar geloof en toegewydheid (Lukas 1:28). God het haar gekies om die moeder van Jesus te word (Lukas 1:31, 35). Maria het ook ander kinders by haar man, Josef, gehad. — Markus 6:3.

 Alhoewel die Bybel wys dat Maria ’n dissipel van Jesus geword het, word daar nie baie ander dinge oor haar gesê nie. — Handelinge 1:14.

a ’n Paar godsdiensgroepe leer dat Maria die moeder van God is. Hulle verwys miskien na haar as “Koningin van die hemel” of as Theotokos, ’n Griekse woord wat “Draer van God” beteken.