Spring na inhoud

Hoe kan ek die ware godsdiens vind?

Hoe kan ek die ware godsdiens vind?

Die Bybel se antwoord

Die Bybel lig toe hoe ons die verskil kan sien tussen diegene wat ware godsdiens beoefen en diegene wat dit nie beoefen nie, deur te sê: “Aan hulle vrugte sal julle hulle herken. Mense pluk nooit druiwe van dorings of vye van dissels nie, of hoe?” (Matteus 7:16). Net soos jy die verskil tussen ’n wingerdstok en ’n doringbos kan sien deur te kyk na wat dit voortbring, kan jy die verskil tussen ware godsdiens en valse godsdiens sien deur te kyk na die vrugte daarvan, of na die volgende identifiserende kenmerke.

  1. Ware godsdiens leer die waarheid wat gebaseer is op die Bybel, nie op mensefilosofie nie (Johannes 4:24; 17:17). Dit sluit godsdienswaarhede in oor die siel en die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde (Psalm 37:29; Jesaja 35:5, 6; Esegiël 18:4). Dit huiwer ook nie om godsdiensleuens bloot te lê nie.—Matteus 15:9; 23:27, 28.

  2. Ware godsdiens help mense om God te leer ken, wat insluit dat hulle sy naam, Jehovah, geleer word (Psalm 83:18; Jesaja 42:8; Johannes 17:3, 6). Dit leer nie dat hy afsydig is of dat hy ’n verborgenheid is nie; dit leer eerder dat hy wil hê dat ons ’n verhouding met hom moet opbou.—Jakobus 4:8.

  3. Ware godsdiens vestig die aandag op Jesus Christus as die een deur wie God redding voorsien (Handelinge 4:10, 12). Die lede daarvan gehoorsaam Jesus se gebooie en probeer sy voorbeeld volg.—Johannes 13:15; 15:14.

  4. Ware godsdiens beklemtoon dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is. Die lede daarvan vertel ander ywerig van hierdie Koninkryk.—Matteus 10:7; 24:14.

  5. Ware godsdiens bevorder onselfsugtige liefde (Johannes 13:35). Dit leer mense respek vir alle etniese groepe en verwelkom mense van alle rasse, kulture, tale en agtergronde (Handelinge 10:34, 35). Die lede daarvan word deur liefde beweeg om nie aan oorlog deel te neem nie.—Miga 4:3; 1 Johannes 3:11, 12.

  6. Ware godsdiens het geen geestelikes wat betaal word nie en gee nie indrukwekkende titels aan enige lede nie.—Matteus 23:8-12; 1 Petrus 5:2, 3.

  7. Ware godsdiens bly in politieke aangeleenthede heeltemal neutraal (Johannes 17:16; 18:36). Maar die lede daarvan respekteer en gehoorsaam die regering van die land waarin hulle woon, in ooreenstemming met die Bybel se bevel: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser [die burgerlike owerheid] behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Markus 12:17; Romeine 13:1, 2.

  8. Ware godsdiens is ’n lewensweg, nie net ’n ritueel of ’n formaliteit nie. Die lede daarvan slaan ag op die Bybel se hoë sedelike standaarde in alle aspekte van die lewe (Efesiërs 5:3-5; 1 Johannes 3:18). Dit maak hulle egter nie ongelukkig nie. Dit bring hulle eerder vreugde mee om “die gelukkige God” te aanbid.—1 Timoteus 1:11.

  9. Diegene wat die ware godsdiens beoefen, sal in die minderheid wees (Matteus 7:13, 14). Lede van die ware godsdiens word dikwels geminag, bespot en vervolg omdat hulle God se wil doen.—Matteus 5:10-12.

Ware godsdiens is nie net ‘die regte godsdiens vir my’ nie

Dit is gevaarlik om ons keuse van godsdiens net te baseer op hoe dit ons laat voel. Die Bybel het ’n tyd voorspel wanneer mense “vir hulle [godsdiens]onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word” (2 Timoteus 4:3). Die Bybel spoor ons daarenteen aan om die godsdiens te beoefen “wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is”, selfs as daardie godsdiens ongewild is.—Jakobus 1:27; Johannes 15:18, 19.