Spring na inhoud

Wat is geestelikheid? Kan ek geestelik wees al behoort ek nie aan ’n godsdiens nie?

Wat is geestelikheid? Kan ek geestelik wees al behoort ek nie aan ’n godsdiens nie?

Die Bybel se antwoord

 Geestelikheid, soos dit in die Bybel gebruik word, kan beskryf word as ’n sterk begeerte en bereidwilligheid om God gelukkig te maak en om soos hy te dink. ’n Geestelike mens probeer hard om volgens God se standaarde te lewe en om deur Sy heilige gees gerig te word. – Romeine 8:5; Efesiërs 5:1. a

 Die Bybel verduidelik dikwels wat geestelikheid is deur vir ons te sê wat mense doen wat nie geestelik is nie. Byvoorbeeld, anders as ’n geestelike mens, ‘aanvaar ’n fisiese mens nie die dinge van die gees van God nie’, dit wil sê God se leringe nie (1 Korintiërs 2:14-16). In teenstelling met geestelike mense is vleeslike mense geneig tot “jaloesie en stryery” eerder as vrygewigheid en vrede (1 Korintiërs 3:1-3). En diegene wat laster en hegte vriendskappe opbreek, word “dierlike mense sonder geestelikheid” genoem. – Judas 19; Spreuke 16:28. b

In hierdie artikel

 Waar kom geestelikheid vandaan?

 Ons het die vermoë om geestelikheid te ontwikkel omdat ons na God se beeld geskep is (Genesis 1:27). Daarom is ons nie verbaas dat die meeste mense waardering het vir en graag wil leer oor dinge wat nie fisies is nie.

 Ons het die natuurlike vermoë om eienskappe soos Jehovah c God s’n te openbaar, soos vrede, genade en onpartydigheid (Jakobus 3:17). God gee ook sy heilige gees aan diegene wat hard probeer om sy gebooie te gehoorsaam. – Handelinge 5:32.

 Hoekom is geestelikheid belangrik?

 Geestelikheid sal vir ons “lewe en vrede” gee (Romeine 8:6). Dit is kosbare geskenke van God.

  •   Lewe: God belowe om die ewige lewe aan geestelike mense te gee. – Johannes 17:3; Galasiërs 6:8.

  •   Vrede: Dit beteken vrede met God. Diegene wat net op hulle fisiese behoeftes fokus, is vyande van God (Romeine 8:7). God beloon ook diegene wat hulle geestelikheid probeer ontwikkel met “die vrede van God, wat alle denke oortref” (Filippense 4:6, 7). Sulke innerlike vrede help hulle om gelukkig te wees. – Matteus 5:3.

 Hoe kan ek geestelikheid ontwikkel?

  •   Leer wat God se gebooie is en wees gehoorsaam daaraan. Jy kan dit doen deur die Bybel te lees, wat God se gedagtes bevat. Sy gedagtes was neergeskryf deur manne wat “deur heilige gees gelei is” (2 Petrus 1:21). Wat jy leer, sal jou help om God “met gees en waarheid” te aanbid. Hierdie soort aanbidding word deur heilige gees gerig en is in ooreenstemming met God se wil. – Johannes 4:24.

  •   Bid vir God se hulp (Lukas 11:13). God sal jou help om die eienskappe te toon wat wys dat jy ’n geestelike mens is (Galasiërs 5:22, 23). Dit kan jou ook die wysheid gee om probleme in die lewe te hanteer. – Jakobus 1:5.

  •   Assosieer met geestelike mense. Hulle sal jou aanmoedig om jou geestelikheid te ontwikkel (Romeine 1:11, 12). In teenstelling hiermee sal jou geestelikheid verswak as jy assosieer met mense wie se denke nie met God s’n ooreenstem nie. – Jakobus 4:4.

 Moet ek aan ’n godsdiens behoort om ’n geestelike mens te wees?

 Jy is nie ’n geestelike mens net omdat jy aan ’n godsdiens behoort nie. Die Bybel sê: “As enigiemand dink dat hy godsdienstig is, maar nie sy tong beheer nie, bedrieg hy sy eie hart en is sy aanbidding verniet.” – Jakobus 1:26, voetnoot.

 Maar die Bybel wys dat geestelike mense God aanbid op die manier wat hy goedkeur. Hulle erken dat daar net “een gees” is – God se heilige gees. Hierdie gees beweeg hulle om God as “een liggaam” te aanbid. Dit verwys na ’n georganiseerde groep wat “die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede” bewaar. – Efesiërs 4:1-4.

 Verkeerde idees oor geestelikheid

 Verkeerde idee: Geestelikheid sluit enige manier van lewe in wat ’n persoon help om ’n vervullende lewe te hê of om sy volle potensiaal te bereik.

 Feit: Die Bybel verwys na geestelikheid as ’n manier van lewe wat deur God se gedagtes gerig word. Dit bevorder nie die idee dat jy ’n goeie mens kan wees sonder God in jou lewe nie. Geestelike mense kan net ’n vervullende lewe hê deur Jehovah as hulle Skepper te erken en deur in ooreenstemming met sy doel te lewe. – Psalm 100:3.

 Verkeerde idee: ’n Persoon kan net geestelikheid ontwikkel deur homself die dinge te ontsê wat hy geniet of om homself pyn te veroorsaak.

 Feit: Om ’n mens se eie liggaam seer te maak, is “’n vorm van aanbidding wat mense self gekies het” en is ’n vleeslike manier van dink (Kolossense 2:18, 23). Die Bybel sê dat as jy geestelik is, sal dit jou gelukkig maak en geen pyn veroorsaak nie. – Spreuke 10:22.

 Verkeerde idee: Enige kontak met die geesteryk, insluitende spiritisme of spiritualisme, bevorder geestelikheid.

 Feit: Een vorm van spiritisme wat soms spiritualisme genoem word, is die oortuiging dat die geeste van dooie mense met die lewendes kan kommunikeer. Maar die Bybel leer dat die dooies bewus is van niks nie (Prediker 9:5). Spiritisme is eintlik kommunikasie met geesskepsele wat in opstand is teen God. Spiritisme maak God kwaad en keer dat ’n persoon ’n geestelike mens kan word. – Levitikus 20:6; Deuteronomium 18:11, 12.

 Verkeerde idee: Die hele skepping is van nature geestelik.

 Feit: Alles wat God geskep het, verheerlik hom (Psalm 145:10; Romeine 1:20). Maar net God se intelligente skepsele kan geestelikheid ontwikkel. In teenstelling hiermee tree diere volgens instink op, en hulle kan nie vriende van God word nie. Alles wat hulle doen, word meestal gemotiveer deur hulle fisiese behoeftes (2 Petrus 2:12). Daarom wys die Bybel dat geestelikheid die teenoorgestelde van dierlike denke en gedrag is. – Jakobus 3:15; Judas 19.

a In die Bybel beteken die woorde in die oorspronklike taal wat met “gees” vertaal word, “asem”. Dit kan ook na iets verwys wat onsigbaar is, maar wat ’n bewegende krag is. Die Bybel beskryf God as die Allerhoogste Geespersoon. ’n Geestelike mens kies om deur God se wil en Sy heilige gees gelei te word.

b In die Bybel verwys die woorde “vleeslik” en “fisies”, wanneer dit op mense van toepassing is, na mense wie se denke en dade hoofsaaklik deur hulle liggaamlike of fisiese behoeftes beweeg word. Hulle neem glad nie God se standaarde in ag nie.

c Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. – Psalm 83:18.