Spring na inhoud

Hoe beskou Jehovah se Getuies die wetenskap?

Hoe beskou Jehovah se Getuies die wetenskap?

 Ons respekteer wat deur die wetenskap bereik is en stem saam met wetenskaplike bevindings wanneer daar genoeg bewyse daarvoor is.

 “Die wetenskap is die studie van die eienskappe en gedrag van natuurlike dinge en die kennis wat ons hieroor verkry” (Collins Cobuild Advanced Learner’s English Dictionary). Hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, spoor dit mense aan om die natuurlike wêreld te bestudeer en om voordeel te trek uit ander mense se wetenskaplike bevindings. Kyk na ’n paar voorbeelde:

  •   Sterrekunde: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem.”—Jesaja 40:26.

  •   Biologie: Salomo “het oor die bome gepraat, van die seder wat op die Libanon is tot die hisop wat teen die muur uitspruit; en hy het oor die diere en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse gepraat”.—1 Konings 4:33.

  •   Geneeskunde: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.”—Lukas 5:31.

  •   Weerkunde: “Het jy in die skatkamers van die sneeu ingegaan, of sien jy die skatkamers van die hael . . . ? Waar [het] die oostewind hom oor die aarde versprei?”—Job 38:22-24.

 Omdat ons publikasies artikels oor die natuur en wetenskaplike prestasies bevat, help dit mense om respek vir die wetenskap te hê. Ouers wat Getuies is, spoor hulle kinders aan om meer te leer sodat hulle die wêreld om hulle beter kan verstaan. ’n Hele paar Getuies van Jehovah is wetenskaplikes en doen werk op die gebied van biochemie, wiskunde en fisika.

Die wetenskap is beperk

 Ons glo nie dat die wetenskap al die mensdom se vrae kan beantwoord nie. a Byvoorbeeld, geoloë ontleed waarvan die aarde gemaak is, en bioloë bestudeer hoe die menseliggaam werk. Maar hoekom is lewe op die aarde moontlik, en hoekom werk die dele van die liggaam so goed saam?

 Dit is vir ons duidelik dat net die Bybel hierdie vrae oortuigend kan beantwoord (Psalm 139:13-16; Jesaja 45:18). Daarom is dit belangrik dat ’n mens van die wetenskap en die Bybel moet leer.

 Soms lyk dit asof die wetenskap nie met die Bybel saam stem nie. Maar wanneer dit lyk asof die wetenskap die Bybel weerspreek, is dit omdat mense nie verstaan wat die Bybel werklik leer nie. Byvoorbeeld, die Bybel leer nie dat die aarde in ses dae van 24 uur elk geskep is nie.—Genesis 1:1; 2:4.

 Party teorieë wat algemeen as wetenskaplike waarhede aanvaar word, kan nie ten volle bewys word nie en word deur party gerespekteerde wetenskaplikes verwerp. Omdat daar bewyse van intelligente ontwerp in die natuurlike wêreld is, stem ons saam met baie bioloë, chemikusse en ander. Hulle het besef dat lewende dinge nie geëvolueer het deur ’n proses van toevallige mutasie en natuurlike seleksie nie.

a Die Oostenrykse fisikus en Nobelpryswenner Erwin Schrödinger het geskryf dat die wetenskap “doodstil is oor alles . . . wat ons regtig na aan die hart lê, die dinge wat vir ons regtig belangrik is”. En Albert Einstein het gesê: “Ons het deur pynlike ondervinding geleer dat logiese redenasies nie genoeg is om die probleme van ons samelewing op te los nie.”