Spring na inhoud

Lektuurtrollies in Duitsland “gaan op vakansie”

Lektuurtrollies in Duitsland “gaan op vakansie”

In groot stede regoor die wêreld het voetgangers al gewoond geraak aan die lektuurtrollies met Bybellektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Byvoorbeeld, in Duitsland het die Getuies lektuuruitstallings in Berlyn, Keulen, Hamburg, München en ander besige stede opgestel.

Maar sou hierdie aantreklike uitstallings net so goed werk in kleiner dorpies waar Duitsers vakansie gaan hou? Hoe sou die mense reageer wanneer hulle die trollies sien in noordelike vakansiedorpies, dorpies by die see en die eilande in die Baltiese see en die Noordsee? In 2016 het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Sentraal-Europa ’n spesiale kampanje gereël om hierdie vrae te beantwoord. Tussen Mei en Oktober het omtrent 800 Getuies, wat lektuurtrollies in stedelike gebiede gebruik, vrywillig trollies in 60 verskillende plekke in die noorde van Duitsland opgestel. Party van hulle het van so ver as Wene, Oostenryk, gekom.

“Deel van die dorp”

Die mense was baie vriendelik teenoor die Getuies. Een vrywilliger sê: “Mense het belanggestel. Hulle was vriendelik, nuuskierig en wou graag met ons praat.” Heidi, wat na die dorpie Plön gegaan het, sê: “Ná ’n paar dae was ons deel van die dorp. Wanneer party mense ons weer gesien het, het hulle vir ons gewaai.” ’n Dowe man het in gebaretaal gewys: “Julle is oral!” Hy en sy vriende het teruggekom van ’n byeenkoms vir dowe mense in die suidooste van Duitsland. Daar het hy ook Jehovah se Getuies ontmoet.

Party mense het selfs aangebied om te help. Op die eiland van Wangerooge het ’n polisieman na die Getuies toe gekom en vriendelik vir hulle vertel hoe hulle meer mense kan bereik. In Waren an der Müritz het die kaptein van ’n toeristeboot interessante plekke vir sy passasiers gewys. Hy het na die lektuurtrollie in die hawe gewys en gesê: “En daar kan julle meer oor God leer.” ’n Hele paar vakansiegangers het nader gegaan om die plakkate by die trollies te lees.

Toeriste en inwoners het belanggestel in die volgende drie brosjures:

  • Gee God werklik vir ons om? ’n Toeris het gesê: “Ek wonder al lank oor hierdie vraag. En nou, terwyl ek op vakansie is, sal ek uiteindelik tyd hê om daaroor te lees.”

  • Goeie nuus wat van God kom! ’n Ouerige man het vir die Getuies gesê dat hy teleurgesteld is in godsdiens. Hulle het aan hom verduidelik dat geen mens ons probleme kan oplos nie, net God kan dit doen. Die man was bly en het die brosjure gevat en belowe om dit te lees.

  • My Bybellesse. ’n Pa het sy dogtertjie toegelaat om hierdie brosjure, wat spesiaal vir kinders is, te vat. Hy het ook My boek met Bybelverhale gevat, en gesê: “Dit sal baie goed vir my gesin wees.”

Mense het meer as 3 600 publikasies by die trollies geneem. Party mense het vir die Getuies gevra om hulle te besoek sodat hulle verder kon gesels.

Die Getuies wat aan die kampanje deelgeneem het, het dit baie geniet. Jörg en sy vrou, Marina, het na ’n gebied naby die Baltiese see gegaan. Hy sê: “Dit was baie spesiaal. Ons kon God se skepping geniet en ook met ander oor hom praat.” Lukas, wat 17 jaar oud is, sê: “Ek het baie daarvan gehou! Ek het dit regtig geniet, en ek kon ook iets belangriks aan ander mense gee.”