Spring na inhoud

13 OKTOBER 2022
TADJIKISTAN

Verenigde Nasies se Menseregtekomitee verklaar Tadjikistan se verbod op Jehovah se Getuies onwettig

Verenigde Nasies se Menseregtekomitee verklaar Tadjikistan se verbod op Jehovah se Getuies onwettig

Op 7 September 2022 het die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee (CCPR) ’n belangrike uitspraak gepubliseer oor Tadjikistan se diskriminerende behandeling van Jehovah se Getuies. In ’n uitspraak wat op 7 Julie 2022 gelewer is oor die saak van Adyrkhayev v. Tajikistan, het die CCPR ten gunste van Jehovah se Getuies beslis. Hierdie saak het gegaan oor Tadjikistan wat weier om Jehovah se Getuies wetlik te erken en toe ’n verbod op hulle bedrywighede gesit het.

Jehovah se Getuies is al meer as 50 jaar lank bedrywig in Tadjikistan. Die Godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies (RAJW) is in 1994 wetlik geregistreer. Maar op 11 Oktober 2007 het die Departement van Kultuur die registrasie gekanselleer en die aanbidding van Jehovah se Getuies verbied. Die regering het beweer dat die predikingswerk van Jehovah se Getuies, hulle gewetensbeswaar teen militêre diens en hulle oortuiging dat hulle die ware godsdiens het, ekstremisties is. Jehovah se Getuies het baie keer probeer om hulle bedrywighede te registreer, maar dit is elke keer geweier.

In hulle onlangse uitspraak het die CCPR tot die gevolgtrekking gekom dat Tadjikistan se verbod op Jehovah se Getuies onwettig is. Hulle het gesê dat “nie een van die redes” wat Tadjikistan gegee het vir die besluit om die Godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies te verbied en om herregistrasie te weier, geldig is nie.

Die CCPR het ook gesê dat die feit dat die regering van Tadjikistan geweier het om die Godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies te herregistreer, gelei het tot “arrestasies, aanhouding, ondervraging, huise wat deursoek is, Getuies wat geslaan is, godsdiensmateriaal wat afgevat is sowel as die deportasie van [een van] Jehovah se Getuies”. As gevolg van hierdie mishandeling het die CCPR vasgestel dat die regte van Jehovah se Getuies geskend is onder die Verenigde Nasies se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte.

Broer Sjamil Chakimof wat 71 jaar oud is, is al sedert Februarie 2019 in die tronk

Die CCPR het Tadjikistan versoek om Jehovah se Getuies se aansoek vir herregistrasie te heroorweeg en om skadevergoeding te betaal aan diegene wie se regte geskend is. Daar was ook vir die regering van Tadjikistan gesê dat hulle “onder verpligting is om al die nodige stappe te neem om te keer dat soortgelyke skendings in die toekoms gebeur”.

Die CCPR se uitspraak kan die saak van die 71-jarige Broer Sjamil Chakimof raak. Hy is al sedert Februarie 2019 in die tronk omdat hy sy geloof vreedsaam beoefen. Die owerhede van Tadjikistan se enigste wetlike grondslag hoekom hulle hom gearresteer en in die tronk gesit het, is die verbod op Jehovah se Getuies.

Ons hoop dat die CCPR se uitspraak tot vryheid van aanbidding vir Jehovah se Getuies in Tadjikistan sal lei. Ons bid dat Jehovah die volgehoue pogings om “die goeie nuus [te] verdedig en wetlik [te] bevestig”, sal seën. – Filippense 1:7.