Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Een boodskap in baie tale—Hoe?

Een boodskap in baie tale—Hoe?

“Daar word soms gesê dat daar nie ’n moeiliker taak as vertaling is nie.”—“The Cambridge Encyclopedia of Language.”

VOORDAT publikasies van Jehovah se Getuies vertaal word, word dit noukeurig beplan, nagevors en geskryf. Tydens hierdie proses sien die Skryfafdeling by hulle wêreldhoofkwartier in New York alle teks deeglik na om seker te maak dat die feite akkuraat is en dat die moderne taalreëls gevolg is. *

Die Skryfafdeling stuur dan die teks aan honderde vertaalspanne regoor die wêreld—die meeste van hulle woon en werk in die omgewing waar die taal waarin hulle vertaal, gepraat word. Die meeste van hulle vertaal in hulle moedertaal. Hulle moet die oorspronklike teks sowel as die doeltaal goed verstaan.

Wat behels die werk van vertalers?

Geraint, ’n vertaler in Brittanje, verduidelik: “Ek werk saam met ’n span vertalers, en daarom is goeie samewerking noodsaaklik. Ons soek saam na oplossings vir moeilike vertaalprobleme. Ons dink nie net aan woorde nie, maar aan groepe woorde, of frases. Ons dink na oor die ware betekenis en bedoeling daarvan en hou heeltyd in gedagte wie die teikengehoor van elke artikel is.”

Wat is julle doelwit as vertalers?

“Ons wil hê dat die leser moet voel asof die teks oorspronklik in sy moedertaal geskryf is. Dit moenie soos ’n vertaling klink nie. Daarom probeer ons taal gebruik wat natuurlik is. Sodoende boei ons die leser se aandag, en hy sal aanhou lees, soos wanneer iemand kos eet wat lekker smaak.”

Watter voordele hou dit in om te woon in die omgewing waar die taal gepraat word?

“Om tussen die plaaslike mense te wees, help ons om op ’n manier te vertaal wat hulle sal verstaan. Ons hoor die taal elke dag. En ons kan uitvind of mense sekere terme en uitdrukkings verstaan en of dit natuurlik is en by hulle byval vind. Dit help ons om die ware betekenis van die oorspronklike teks oor te dra.”

Hoe word julle werk georganiseer?

“Elke projek word aan ’n span toegewys. Eers lees elke lid van die span die oorspronklike teks om vertroud te raak met die inligting, te bepaal hoe dit saamgestel is en wie die teikengehoor is. Ons vra ons af: ‘Wat is die doel van die artikel? Wat is die hooftema van die artikel? Wat wil ek uit hierdie artikel leer?’ Hierdie stap sit ons aan die dink.

“Daarna gesels die span oor hulle idees en leer hulle by mekaar. Is ons seker dat ons die artikel verstaan? Hoe kan ons die skryfstyl van die oorspronklike teks volg? Ons doelwit is dat diegene wat die vertaling lees, dieselfde reaksie moet hê as wat die oorspronklike skrywer by sy gehoor wou uitlok.”

Hoe werk die lede van die span saam?

“Ons wil hê dat die lesers die teks moet verstaan wanneer hulle dit die heel eerste keer lees. Daarom lees ons elke vertaalde paragraaf ’n paar keer hardop.

“Die vertaler tik ’n paragraaf in die doeltaal, en ons kan dit op ons rekenaarskerms sien. Ons maak seker dat niks weggelaat of bygevoeg is nie. Ons maak ook seker dat dit natuurlik klink en dat die regte spelling en grammatika gebruik is. Dan lees iemand die paragraaf hardop. As die persoon oor sy of haar woorde struikel, vra ons waarom. Wanneer die hele artikel vertaal is, lees een lid dit hardop terwyl die ander aantekeninge maak en moontlike probleme identifiseer.”

Dit klink soos harde werk!

“Dit is! En ons is moeg aan die einde van die dag. Daarom kyk ons weer die volgende oggend na die artikel wanneer ons uitgerus is. ’n Paar weke later stuur die Skryfafdeling vir ons die finale veranderinge wat hulle aan die oorspronklike teks gemaak het. Dan lees ons dit weer met nuwe oë en ore en bring verdere verbeteringe aan.”

Watter rekenaarprogramme gebruik julle?

“Rekenaars kan nie vertalers vervang nie. Maar Jehovah se Getuies het sagteware ontwikkel wat ons werk makliker maak. Een hulpmiddel is ’n woordeboek waarin ons terme en frases plaas wat ons dikwels gebruik. ’n Ander hulpmiddel help ons om navorsing te doen oor alles wat reeds deur ons span vertaal is en om te sien watter oplossings in die verlede vir ons vertaalprobleme gevind is.”

Hoe voel julle oor julle werk?

“Ons beskou ons werk as ’n geskenk aan die publiek. En ons wil ons bes doen sodat mense die artikels kan geniet en daarby kan baat vind. Dit maak ons baie bly wanneer ons dink aan die feit dat ’n artikel in ’n tydskrif of op ons webwerf die hart van ’n leser kan raak en sy lewe ten goede kan verander.”

Lewenslange voordele

Honderdmiljoene mense regoor die wêreld vind baat wanneer hulle publikasies van Jehovah se Getuies in hulle eie taal lees. Die praktiese wysheid wat gevind word in hulle lektuur en video’s, sowel as op hulle webwerf, jw.org, is op die Bybel gebaseer. Dit is immers in hierdie heilige boek dat God, wie se naam Jehovah is, vir ons sê dat hy wil hê dat sy boodskap aan mense van “elke nasie en stam en taal en volk” verkondig moet word.—Openbaring 14:6. *

^ par. 4 Die oorspronklike teks word in Engels voorberei.

^ par. 25 Besoek jw.org om geskrewe, oudio- en videopublikasies in jou eie taal sowel as in honderde ander tale te vind.