Spring na inhoud

Mag ’n Christen mediese behandeling aanvaar?

Mag ’n Christen mediese behandeling aanvaar?

Die Bybel se antwoord

 Ja. Jesus het te kenne gegee dat sy volgelinge mediese behandeling mag ontvang toe hy gesê het: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel” (Matteus 9:12). Hoewel die Bybel nie ’n mediese handleiding is nie, voorsien dit wel beginsels om diegene te rig wat God se goedkeuring wil hê.

Vrae wat jy jou kan afvra

 1. Verstaan ek wat die voorgestelde behandeling behels? Die Bybel beveel aan dat ons betroubare inligting soek in plaas van ‘elke woord te glo’.—Spreuke 14:15.

 2. Moet ek ’n tweede of ’n derde mediese opinie kry? ’n “Veelheid van raadgewers” kan nuttig wees, veral as jou toestand ernstig is.—Spreuke 15:22.

 3. Sal ek deur die behandeling die Bybelse gebod skend om my ‘van bloed te onthou’?—Handelinge 15:20.

 4. Is spiritisme betrokke by die diagnose of by die behandeling? Die Bybel veroordeel die “beoefening van spiritisme” (Galasiërs 5:19-21). Dink na oor die volgende vrae om vas te stel of spiritisme daarby betrokke is:

  •   Maak die praktisyn gebruik van spiritisme?

  •   Is die behandeling gegrond op die opvatting dat die siekte veroorsaak word deur gekrenkte gode of deur vyande wat toorkuns beoefen?

  •   Gaan die voorbereiding of gebruik van die geneesmiddels gepaard met offerandes, towerspreuke of ander spiritistiese rituele of voorwerpe?

 5. Raak ek behep met my gesondheid? Die Bybel maan: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Redelikheid sal jou help om jou aandag te vestig op “die belangriker dinge”, soos geestelike sake.—Filippense 1:10; Matteus 5:3.