Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VIND VERLIGTING VAN STRES

Hoe om stres te hanteer

Hoe om stres te hanteer

As jy stres goed wil hanteer, moet jy dink aan jou fisiese gesondheid, die manier waarop jy ander behandel en jou doelwitte en prioriteite in die lewe – dit wil sê wat vir jou werklik belangrik is. Hierdie artikel sal ’n paar praktiese beginsels bespreek wat jou kan help om stres beter te hanteer of om dit selfs te verminder.

Vat een dag op ’n slag

“Moet . . . nooit bekommerd wees oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie bekommernisse hê.” – MATTEUS 6:34.

Wat dit beteken: Daaglikse bekommernisse is deel van die lewe. Maar moenie vandag se bekommernisse erger maak deur môre s’n by te voeg nie. Vat een dag op ’n slag.

  • Stres kan angstigheid veroorsaak. So probeer die volgende: Eerstens moet jy besef dat jy stres gaan hê. As jy bekommerd is oor dinge wat jy nie kan keer nie, kan dit jou meer laat stres. Tweedens moet jy besef dat dinge waaroor jy bekommerd is, dikwels nie eers gebeur nie.

Stel redelike standaarde

“Die wysheid van bo is . . . redelik.” – JAKOBUS 3:17.

Wat dit beteken: Moenie ’n perfeksionis wees nie. Moenie standaarde vir jouself of ander stel wat onredelik hoog is nie.

  • Moenie te veel van jouself verwag nie, stel redelike standaarde en weet wat jou beperkings en dié van ander is. As jy dit doen, sal jy jou en ander se stres verminder, en dan het julle almal ’n groter kans op sukses. En behou jou sin vir humor. Wanneer jy lag – selfs as iets verkeerd gaan – is jy minder gespanne en voel jy beter.

Weet wat jou laat stres

“’n Man wat insig het, sal kalm bly.” – SPREUKE 17:27.

Wat dit beteken: Negatiewe emosies kan veroorsaak dat jy nie helder dink nie. So probeer om kalm te bly.

  • Identifiseer wat jou laat stres, en wees bewus van hoe jy reageer. Byvoorbeeld, wanneer jy gestres voel, moet jy bewus wees van jou gedagtes, gevoelens en gedrag, en jy kan dit selfs neerskryf. As jy meer bewus word van hoe jy op stres reageer, sal dit jou dalk help om dit beter te hanteer. En dink ook aan hoe jy ontslae kan raak van dinge wat vir jou stres veroorsaak. As dit nie moontlik is nie, kan jy na maniere soek om die uitwerking daarvan te verminder, dalk deur jou take beter te doen en jou tyd beter te gebruik.

  • Probeer om jou uitkyk te verander. Die dinge wat jou laat stres, sal dalk nie iemand anders laat stres nie. Dit hang af van hoe jy dinge beskou. Kyk na hierdie drie wenke:

    1. Moenie te gou dink dat iemand slegte motiewe het nie. ’n Persoon bars dalk voor jou in terwyl jy in ’n ry staan. As jy dink dat hy dit gedoen het omdat hy onbeskof is, sal jy dalk kwaad word. Neem eerder aan dat hy ’n goeie rede gehad het om dit te doen. Jy is dalk reg!

    2. Kyk na die positiewe kant van ’n situasie. Dit is makliker om te sit en wag by die dokter se kantoor of by die lughawe as jy die tyd gebruik om ’n bietjie te lees, ’n bietjie werk te doen of e-posse te stuur.

    3. Hou die groter prentjie in gedagte. Vra jouself: ‘Sal hierdie probleem môre of volgende week nog steeds so groot lyk?’ Bepaal wat klein probleme is en wat groot probleme is.

Probeer om ordelik te wees

“Laat alles reg en ordelik plaasvind.” – 1 KORINTIËRS 14:40.

Wat dit beteken: Probeer om jou lewe te organiseer.

  • Ons hou van ’n redelike mate van orde in ons lewe. Een ding wat kan veroorsaak dat jou lewe nie georganiseerd is nie en wat tot stres kan bydra, is die gewoonte om dinge uit te stel, en dit kan lei tot ’n lang lys van dinge wat nog gedoen moet word. Hier is twee wenke wat jou kan help:

    1. Werk ’n realistiese rooster uit en bly daarby.

    2. Kyk na hoekom jy dinge uitstel en probeer verbeter.

Probeer om ’n gebalanseerde lewe te hê

“’n Hand vol rus is beter as twee hande vol harde werk en ’n gejaag na wind.” – PREDIKER 4:6.

Wat dit beteken: Mense wat verslaaf is aan hulle werk, kan dalk uitmis op hulle “twee hande vol harde werk”. Hulle het dalk nie die tyd of energie oor om die dinge te geniet waarvoor hulle gewerk het nie.

  • Hou werk en geld op hulle plek. Meer geld beteken nie meer geluk of minder stres nie. Om die waarheid te sê, soms is die teenoorgestelde waar. “Die rykdom van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie”, sê Prediker 5:12. So moenie meer geld spandeer as wat jy het nie.

  • Maak tyd om te ontspan. Jy raak ontslae van stres wanneer jy dinge doen wat jy geniet. Maar as jy ontspanning kies waaraan jy nie aktief deelneem nie, soos om televisie te kyk, sal dit dalk nie help nie.

  • Hou tegnologie op sy plek. Moenie die heeltyd kyk of jy e-posse en teksboodskappe het nie, en moenie die heeltyd op sosiale media wees nie. Moenie e-posse wat met jou werk verband hou ná ure lees, tensy dit nodig is nie.

Kyk na jou gesondheid

“Fisiese oefening het . . . voordeel.” – 1 TIMOTEUS 4:8.

Wat dit beteken: Gereelde oefening help ’n mens om gesonder te wees.

  • Ontwikkel goeie gewoontes. Fisiese oefening kan jou beter laat voel en jou liggaam help om stres beter te hanteer. Eet gesonde kos en probeer om nie maaltye oor te slaan nie. Maak seker dat jy genoeg rus kry.

  • Vermy skadelike “oplossings” vir stres, soos om te rook of om dwelms of alkohol te misbruik. Op die ou end sal dit net vir jou meer stres veroorsaak en jou beroof van jou gesondheid en die geld waarvoor jy hard gewerk het.

  • Gaan doktor toe as jou stres vir jou te veel raak. As jy professionele hulp kry, beteken dit nie dat jy misluk het nie.

Stel prioriteite

‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – FILIPPENSE 1:10.

Wat dit beteken: Dink mooi na oor jou prioriteite.

  • Maak ’n lysie van alles wat jy moet doen, en skryf die belangrikste dinge eerste. Dit sal jou help om te fokus op die belangrikste dinge en om te weet watter dinge jy later kan doen, watter dinge jy vir iemand anders kan vra om te doen en selfs watter dinge jy van die lysie kan afhaal.

  • Hou ’n week lank rekord van hoe jy jou tyd gebruik. En kyk dan hoe jy jou tyd beter kan gebruik. As jy meer in beheer voel, sal jy minder onder druk voel.

  • Maak tyd om te ontspan. Al ontspan jy net vir ’n kort tydjie, kan dit jou nuwe krag gee en jou stres verminder.

Kry ondersteuning

“Angstigheid in ’n mens se hart maak hom terneergedruk, maar ’n goeie woord maak sy hart bly.” – SPREUKE 12:25.

Wat dit beteken: Die vriendelike, liefdevolle woorde van ander kan jou laat beter voel.

  • Praat met iemand wat sal verstaan hoe jy voel. ’n Vriend wat jy vertrou, kan jou help om dinge anders te sien of om ’n oplossing te kry waaraan jy nie gedink het nie. En selfs om net met iemand te praat, kan jou beter laat voel.

  • Vra vir hulp. Kan jy iemand vra om jou te help met ’n taak wat jy moet doen of hom vra om dit vir jou te doen?

  • As iemand by die werk vir jou stres veroorsaak, moet jy na maniere soek om die situasie te verbeter. Jy kan miskien op ’n mooi en vriendelike manier vir die persoon sê hoe hy of sy jou laat voel (Spreuke 17:27). As dit nie help nie, kan jy dalk probeer om minder tyd met die persoon te spandeer.

Kyk na jou geestelikheid

“Gelukkig is dié wat besef dat hulle God nodig het.” – MATTEUS 5:3.

Wat dit beteken: As mense het ons nie net kos, klere en behuising nodig nie. Ons het ook ’n verhouding met God nodig. As ons gelukkig wil wees, moet ons bewus wees van hierdie behoefte en iets omtrent dit doen.

  • Gebed kan baie help. God nooi jou om ‘al jou bekommernisse aan hom oor te gee, want hy gee om vir jou’ (1 Petrus 5:7). Wanneer jy bid en oor opbouende dinge nadink, kan jy diep innerlike vrede ondervind. – Filippense 4:6, 7.

  • Lees dinge wat jou nader aan God sal bring. Die wenke wat in hierdie tydskrif bespreek word, kom uit die Bybel, wat geskryf was om ons te help om nader aan God te kom. Hierdie wenke kan jou ook help om “praktiese wysheid en denkvermoë” te hê (Spreuke 3:21). Hoekom maak jy dit nie ’n doelwit om die Bybel te lees nie? Die boek Spreuke is dalk ’n goeie plek om te begin.