Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Stres—Hoe om dit te beheer

Stres—Hoe om dit te beheer

“Dit het gevoel of ek soos ’n hamster op ’n wieletjie hardloop en nêrens kom nie. Ek het dikwels 16 uur per dag gewerk en skaars ’n naweek vry gehad. Ek was kwaad omdat ek my dogtertjie net gesien het wanneer sy slaap. Stres het my siek gemaak.”—Kari, Finland.

KARI se ondervinding is nie iets ongewoons nie. Volgens ’n liefdadigheidsorganisasie in die Verenigde Koninkryk wat mense met geestesgesondheidsprobleme help, het 1 uit 5 Britse werkers gesê dat stres hulle al gedurende hulle loopbaan fisies siek gemaak het, en 1 uit 4 het gesê dat hewige druk hulle al by die werk laat huil het. Gedurende ’n onlangse jaar toe daar ’n ekonomiese resessie was, was daar ’n ongekende toename in voorskrifte vir antidepressante.

Wat veroorsaak vir jou stres?

  • Onsekerheid—oor geldsake of iets anders

  • ’n Veeleisende roetine

  • Konflikte met ander

  • ’n Traumatiese ondervinding

Watter uitwerking het stres op jou?

  • Gesondheidsprobleme

  • Emosionele uitputting

  • Slaapprobleme

  • Depressie

  • Verslegtende verhoudings

Stres sit ’n merkwaardige stelsel in jou liggaam aan die gang—jou noodreaksiestelsel. Hormone word vrygestel wat jou vinniger laat asemhaal, jou hartklop versnel en jou bloeddruk verhoog. Opgegaarde bloedselle en glukose word ook in groot hoeveelhede in jou bloedstroom vrygestel. Hierdie reeks reaksies help jou om die stresvolle situasie te verwerk. Wanneer hierdie situasie verby is, sal jou liggaam moontlik na normaal terugkeer. Maar as die stresvolle situasie voortduur, kan dit jou die hele tyd angstig of gespanne laat voel, soos ’n enjin wat aanhoudend teen hoë revolusies loop. Dit is dus belangrik om te leer hoe om stres te verwerk ter wille van jou fisiese sowel as jou geestesgesondheid.

Hoe om stres te beheer

Stres op sigself is nie noodwendig skadelik nie. Die Amerikaanse Sielkundige Vereniging het gesê: “Stres het dieselfde invloed op die mens as wat spanning op ’n vioolsnaar het: te min spanning laat die musiek dof en rasperig klink; te veel spanning laat die musiek skril klink of laat die snaar breek. Stres kan die dood veroorsaak of dit kan die lewe interessanter maak. Dit is dus belangrik om te weet hoe om dit te beheer.”

Nog ’n aspek van stres is dat mense verskil wat hulle geaardheid en algemene gesondheid betref. Wat dus vir een mens stres veroorsaak, sal dalk nie vir ’n ander stres veroorsaak nie. Maar as jou gewone roetine jou so gespanne maak dat jy nie kan ontspan of nou en dan ’n noodgeval kan hanteer nie, ly jy waarskynlik aan oormatige stres.

Party mense wend hulle tot alkohol, dwelms of tabak om hulle te help om chroniese stres te “verwerk”. Ander ontwikkel ongewone eetgewoontes of sit passief voor die TV of rekenaar—gewoontes wat nie die onderliggende probleem help oplos nie, maar wat dit eintlik vererger. Hoe kan ons dan leer om stres doeltreffend te beheer?

Baie mense het al daarin geslaag om die stres van die lewe te beheer deur die praktiese raad in die Bybel toe te pas. Kan die beproefde wysheid daarin jou help? Jy kan die antwoord op hierdie vraag vind deur na vier algemene oorsake van stres te kyk.

1 ONSEKERHEID

Nie een van ons kan seker wees van alles in die lewe nie. Dit is soos die Bybel sê: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref [ons] almal” (Prediker 9:11). Hoe kan jy onsekerheid die hoof bied? Probeer hierdie wenke.

  • Neem ’n hegte familielid of vriend in jou vertroue. Studies toon dat die ondersteuning van geliefdes altyd beskerming bied teen stresverwante siektes. Ja, “’n ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is”.Spreuke 17:17.

  • Moenie altyd dink dat die ergste sal gebeur nie. Sulke denke sal jou net emosioneel uitput. En wat jy vrees, gebeur dalk nooit nie! Die Bybel sê met goeie rede: “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê.”Matteus 6:34.

  • Maak staat op die krag van gebed. “[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle”, sê 1 Petrus 5:7. God toon dat hy besorg is oor ons deur ons innerlike vrede te gee en ons te verseker dat hy ons “[nooit sal] versaak” as ons ons in moeilike tye opreg tot hom wend vir vertroosting en ondersteuning nie.Hebreërs 13:5; Filippense 4:6, 7.

2 VEELEISENDE ROETINE

’n Veeleisende roetine van werk, heen-en-weer-ryery, studie of versorging van kinders of bejaarde ouers kan stresvlakke hoog laat bly. En dit is dalk nie moontlik om party van hierdie bedrywighede uit te skakel nie (1 Timoteus 5:8). Wat kan jy dan doen om die stres te verwerk?

  • Probeer tyd inruim om te ontspan, en kry genoeg rus. Die Bybel sê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind.”Prediker 4:6.

  • Stel die regte prioriteite, en moenie ’n hoë lewenstyl najaag nie (Filippense 1:10). Oorweeg dit om jou lewe te vereenvoudig, miskien deur uitgawes te verminder of minder tyd by die werk deur te bring.Lukas 21:34, 35.

Kari, wat vroeër genoem is, het sy lewe weer in oënskou geneem. “Ek het besef dat ek ’n selfsugtige lewe lei”, het hy geskryf. Hy het sy sakeonderneming verkoop en werk gekry wat dit vir hom moontlik gemaak het om meer by die huis te wees. “Ons lewenstandaard is nou ’n bietjie laer”, erken hy, “maar ek en my vrou het nou nie meer voortdurend stres nie, en ons het meer tyd om saam met familie en vriende deur te bring. Ek sal nie die gemoedsrus wat ek nou het, verruil vir enige sakegeleentheid nie.”

3 KONFLIKTE MET ANDER

Konflikte met ander, veral by die werk, kan baie stres veroorsaak. As jy hierdie probleem ondervind, is daar ’n paar wenke wat jou kan help.

  • Probeer kalm bly wanneer iemand jou ontstel. Moenie olie op die vuur gooi nie. “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom”, sê Spreuke 15:1.

  • Probeer meningsverskille privaat en beleefd oplos sodat die ander persoon sy waardigheid behou.Matteus 5:23-25.

  • Probeer insig kry in die ander persoon se gevoelens en beskouing. Hierdie insig sal ons ‘toorn vertraag’, omdat dit ons help om ons in die ander persoon se skoene te plaas (Spreuke 19:11). Dit kan ons ook help om te besef hoe die ander persoon ons beskou.

  • Probeer vergewe. Dit is nie net mooi om te vergewe nie. Dit is ook goed vir ’n mens. ’n Studie wat in 2001 gedoen is, het getoon dat “onvergewensgesindheid” daartoe lei dat ’n mens se bloeddruk en hartklop “aansienlik hoër” is, terwyl vergewensgesindheid stres verminder.Kolossense 3:13.

4 TRAUMATIESE GEBEURTENISSE

Nieng, wat in Kambodja woon, het ’n hele paar tragedies deurgemaak. In 1974 is sy beseer toe ’n bom by ’n lughawe ontplof het. Die jaar daarna het haar twee kinders, haar moeder en haar man gesterf. In die jaar 2000 is haar huis en ander besittings in ’n brand vernietig, en drie jaar later het haar tweede man gesterf. Op daardie tydstip wou sy haar eie lewe neem.

“’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk”

Tog het Nieng ’n manier gevind om haar situasie die hoof te bied. Soos Kari het sy die Bybel ondersoek en soveel baat gevind by wat sy geleer het dat sy toe tyd daaraan gewy het om ander te help om ook daarby baat te vind. Haar verhaal bevestig wat Britse navorsers in 2008 in ’n studie bevind het. Volgens hulle kan dit jou help om “stres te verwerk” as jy “op die een of ander manier . . . aan ander gee”—raad wat al lank in die Bybel is.Handelinge 20:35.

Nieng het ook ’n vaste hoop op ’n beter toekoms gekry, ’n toekoms waarin al die probleme wat die mensdom teister, nie meer daar sal wees nie. Daar sal eerder oral op die aarde ’n “oorvloed van vrede” wees.Psalm 72:7, 8.

Ware hoop en die wysheid om stres in die lewe die hoof te bied, is albei van onskatbare waarde en kan albei in die Bybel gevind word. Miljoene mense het reeds by hierdie merkwaardige en unieke boek baat gevind. Jy kan ook.