Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N WÊRELD VOL PROBLEME

4 | Beskerm jou hoop

4 | Beskerm jou hoop

HOEKOM DIT SAAK MAAK

Wanneer mense angstig is oor die probleme in die wêreld, kan dit ’n fisiese en emosionele uitwerking op hulle hê. Baie mense wat deur hierdie probleme geraak word, dink nie dat die situasie ooit beter sal word nie. Hoe reageer hulle?

  • Party wil nie eers aan die toekoms dink nie.

  • Ander probeer om van hulle bekommernisse te vergeet deur alkohol of dwelms te gebruik.

  • Party kom tot die gevolgtrekking dat die dood beter is as die lewe. Hulle vra: “Is dit die moeite werd om aan te hou lewe?”

Wat jy moet weet

  • Party van die probleme wat jy het, is dalk tydelik en kan onverwags goed uitdraai.

  • Selfs al verander jou situasie nie, is daar dinge wat jy kan doen wat jou kan help om dit te hanteer.

  • Die Bybel gee ware hoop – ’n permanente oplossing vir die mens se probleme.

Wat jy nou kan doen

Die Bybel sê: “Moet . . . nooit bekommerd wees oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie bekommernisse hê. Elke dag het genoeg van sy eie probleme.” – Matteus 6:34.

Vat dit een dag op ’n slag. Moenie so bekommerd oor die toekoms wees dat jy nie die verantwoordelikhede wat jy vandag het, kan hanteer nie.

As jy jou bekommer oor negatiewe dinge wat dalk sal gebeur, sal dit jou net meer laat stres en sal jou hoop vir ’n beter toekoms nie meer so sterk wees nie.

Die Bybel gee ware hoop

’n Psalmskrywer uit die ou tyd het in gebed tot God gesê: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Kyk hoe die Bybel – God se Woord – soos ’n lamp en ’n lig kan wees.

Op ’n donker nag help ’n lamp ons om te sien waar ons moet loop. Net so bevat die Bybel praktiese wysheid wat ons kan help wanneer ons ’n moeilike besluit moet maak.

’n Lig kan ons pad verlig sodat ons kan sien wat voorlê. Net so kan die Bybel vir ons wys dat daar ’n beter toekoms vir ons voorlê.