Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Wat jy kan doen as jy eensaam voel

Wat jy kan doen as jy eensaam voel

DIE UITDAGING

“Ek het twee vriendinne gehad wat dikwels dinge saam gedoen het sonder om my te nooi. Hulle het die hele tyd gepraat oor hoe lekker dit was. Eenkeer het ek my vriendin by haar huis gebel terwyl die ander meisie ook daar was. Iemand anders het die telefoon opgetel, en ek het gehoor hoe hulle in die agtergrond gesels en lag. Ek het net gehoor hoeveel pret hulle het, en dit het my selfs eensamer laat voel!”—Maria. *

Het jy al ooit uitgesluit en eensaam gevoel? As dit die geval is, kan die Bybel se raad jou help. Maar kyk eers na ’n paar dinge wat jy omtrent eensaamheid moet weet.

WAT JY MOET WEET

Byna almal voel soms eensaam. Dit sluit mense in wat lyk of hulle gewild is. Waarom? Want dit is dikwels nie hoeveel vriende ’n mens het nie, maar die gehalte van die vriendskappe wat bepaal of jy eensaam voel of nie. Iemand wat lyk asof hy gewild is, word dalk heeltyd deur mense omring, maar het geen ware vriende nie en voel dus eensaam.

Eensaamheid kan gevaarlik wees vir jou gesondheid. Navorsers wat die resultate van 148 studies ontleed het, het tot die slotsom gekom dat min sosiale interaksie tot ’n vroeë dood kan lei. As ’n risikofaktor is dit “soos om 15 sigarette per dag te rook” en is dit “twee keer skadeliker as vetsug”.

Eensaamheid kan jou kwesbaar maak. Trouens, dit kan veroorsaak dat jy enigiemand as ’n vriend sal aanvaar. “As jy eensaam is, is jy dalk desperaat vir aandag”, sê ’n jong man met die naam Alan. “Jy kan begin dink dat enige aandag beter is as geen aandag nie. En dít kan tot probleme lei.”

Tegnologie is nie altyd die oplossing vir eensaamheid nie. “Ek kan elke dag SMS’e en e-posse aan honderde mense stuur en nog steeds verskriklik eensaam voel”, sê ’n jong vrou met die naam Natalie. ’n Tiener met die naam Tyler voel ook so. “SMS’e is soos ’n peuselhappie, maar om van aangesig tot aangesig met iemand te praat, is soos ’n maaltyd”, sê hy. “Peuselhappies is lekker, maar jy het ’n hele maaltyd nodig om jou honger te bevredig.”

WAT JY KAN DOEN

Moenie die slegste dink nie. Byvoorbeeld, sê nou jy sien op ’n webwerf foto’s van jou vriende by ’n partytjie waarheen jy nie genooi is nie. Op daardie oomblik het jy ’n keuse—jy kan dink dat hulle jou opsetlik uitgesluit het of jy kan ’n positiewe beskouing behou. Aangesien jy nie al die feite het nie, moet jy nie die slegste dink nie. Gebruik jou energie eerder om te dink aan ’n goeie verduideliking waarom hulle jou nie genooi het nie. Dit is dikwels nie die situasie nie, maar jou beskouing wat jou eensaam laat voel.—Bybelbeginsel: Spreuke 15:15.

Vermy veralgemenings. Wanneer jy eensaam is, dink jy dalk: ‘Ek word nooit na enigiets genooi nie’ of ‘Mense vermy my altyd’. Maar hierdie veralgemenings sal jou net dieper in die dryfsand van eensaamheid laat insink. Sulke denke kan ’n boosaardige siklus veroorsaak: Jy voel uitgesluit, en daarom sonder jy jou af; dít laat jou eensaam voel, wat weer eens daartoe lei dat jy uitgesluit voel.—Bybelbeginsel: Spreuke 18:1.

Kies ook vriende wat ouer is as jy. In die Bybel kan ons lees oor die lewe van Dawid, wat waarskynlik ’n tiener was toe hy Jonatan ontmoet het—’n man wat 30 jaar ouer as hy was. Ondanks hulle ouderdomsverskil het Dawid en Jonatan hegte vriende geword (1 Samuel 18:1). Jy kan ook sulke vriendskappe aanknoop. “Ek het onlangs die waarde daarvan besef om vriende te hê wat ouer is as ek”, sê die 21-jarige Kiara. “Ek het ’n paar hegte vriende wat dekades ouer is as ek, en ek waardeer werklik hulle volwasse beskouing van dinge en hulle stabiliteit.”—Bybelbeginsel: Job 12:12.

Besef dat dit voordele inhou om alleen te wees. Party mense voel eensaam sodra hulle ’n oomblik alleen is. Maar jy hoef nie eensaam te voel as jy alleen is nie. Byvoorbeeld, Jesus was ’n sosiale persoon, maar hy het ook die waarde daarvan besef om alleen te wees (Matteus 14:23; Markus 1:35). Dieselfde kan vir jou geld. Moet dit nie as ’n nadeel beskou wanneer jy alleen is nie, maar gebruik hierdie tyd eerder om met waardering oor jou seëninge na te dink. Dan sal ander selfs meer met jou vriende wil maak.—Spreuke 13:20.

^ par. 4 Party van die name in hierdie artikel is verander.