Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | WAAROOR HANDEL DIE BYBEL?

God reël om die mensdom te verlos

God reël om die mensdom te verlos

God het die getroue man Abraham belowe dat die voorspelde “saad” een van Abraham se nakomelinge sal wees. Deur middel van hierdie “saad” sou mense van “al die nasies” geseën word (Genesis 22:18). Abraham se kleinseun Jakob het later na Egipte getrek, waar sy familie toegeneem en die eertydse nasie Israel geword het.

Later het ’n tirannieke Farao in Egipte slawe van die Israeliete gemaak. God het toe die profeet Moses verwek, wat die nasie uit die land uitgelei het deur die Rooisee, waarvan die waters wonderdadig geskei is. Hierna het God wette aan Israel gegee, wat die Tien Gebooie ingesluit het, om hulle te lei en te beskerm. Hierdie wette het offerandes vir die vergifnis van sondes voorgeskryf. Moses is deur God geïnspireer om vir Israel te sê dat God vir hulle ’n ander profeet sal stuur. Hierdie profeet sou die beloofde “saad” wees.

Meer as 400 jaar later het God koning Dawid belowe dat die een wat sal kom, die “saad” wat in Eden voorspel is, oor ’n koninkryk sal regeer wat vir ewig sal bly staan. Hy sou die Messias wees, die Verlosser wat deur God aangestel is om die mensdom te red en die Paradys op die aarde te herstel.

God het deur Dawid en ander profete stelselmatig meer omtrent die Messias geopenbaar. Hulle het voorspel dat hy nederig en goedhartig sal wees en dat honger, ongeregtigheid en oorlog onder sy heerskappy tot ’n einde sal kom. Die hele mensdom sal in vrede met mekaar en ook met die diere lewe. Siekte, lyding en die dood—wat nooit deel van God se oorspronklike voorneme was nie—sal verdwyn, en mense wat gesterf het, sal opgewek word tot lewe op die aarde.

God het deur die profeet Miga voorspel dat die Messias in Betlehem gebore sal word, en deur die profeet Daniël dat hy later doodgemaak sal word. Maar daar is ook voorspel dat God die Messias uit die dood sal opwek en hom as Koning in die hemel sal aanstel. Daniël het ook vooruitgesien dat die Messias se Koninkryk uiteindelik alle ander regerings permanent sal vervang. Het die Messias werklik gekom soos voorspel is?

Gebaseer op Genesis, hoofstukke 22-50, sowel as Eksodus, Deuteronomium, 2 Samuel, Psalms, Jesaja, Daniël, Miga, Sagaria 9:9.