Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | WAAROOR HANDEL DIE BYBEL?

“Ons het die Messias gevind”!

“Ons het die Messias gevind”!

Sowat vier eeue nadat die laaste boek van die Hebreeuse deel van die Bybel geskryf is, is Miga se profesie oor die Messias vervul: Jesus is in Betlehem gebore. Ongeveer 30 jaar later, in 29 HJ, is die eerste deel van Daniël se profesie oor die koms van die Messias vervul. Jesus is gedoop, en God het hom met heilige gees gesalf. Die langverwagte Messias, die Saad, het presies op tyd verskyn!

Jesus het dadelik met sy bediening begin en “die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Lukas 8:1). Soos voorspel is, was Jesus goedhartig, saggeaard en opreg besorg oor ander. Sy onderrigting was prakties en liefdevol, en hy het “elke soort gebrek” onder die volk genees, wat bewys het dat God met hom was (Matteus 4:23). Mense van alle ouderdomme het na Jesus toe gestroom en tot die slotsom gekom: “Ons het die Messias gevind”!—Johannes 1:41.

Jesus het voorspel dat die wêreld oorloë, aardbewings en baie ander probleme sal ondervind kort voordat sy Koninkryk volle beheer oor die aarde oorneem. Hy het almal aangespoor: “Hou aan waak.”—Markus 13:37.

Jesus was ’n volmaakte mens wat aan God gehoorsaam gebly het, maar hy het vyande gehad wat hom uiteindelik laat doodmaak het. Sy dood het dus die volmaakte offerande voorsien om vir ons terug te koop wat Adam en Eva verloor het—die vooruitsig op eindelose lewe in die Paradys.

Jesus se dood en die feit dat hy drie dae later as ’n magtige geesskepsel deur God opgewek is, het profesieë vervul. Ná sy opstanding het Jesus aan meer as 500 van sy dissipels verskyn. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy volgelinge die opdrag gegee om die goeie nuus oor hom en sy Koninkryk aan “mense van al die nasies” bekend te maak (Matteus 28:19). Hoe deeglik het hulle hierdie toewysing uitgevoer?

Gebaseer op Matteus, Markus, Lukas, Johannes, 1 Korintiërs.