Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

‘Jehovah het julle vryelik vergewe’

‘Jehovah het julle vryelik vergewe’

“Hy wat ander nie kan vergewe nie, breek die brug af waaroor hy self moet loop.” Hierdie woorde van die 17de-eeuse Britse geskiedskrywer Edward Herbert beklemtoon een rede waarom ons vergewensgesind teenoor ander moet wees: Ons sal moontlik vroeër of later ander mense moet vra om ons te vergewe (Matteus 7:12). Maar daar is ’n baie belangriker rede waarom ons vergewensgesind moet wees. Let op die apostel Paulus se woorde in Kolossense 3:13.—Lees.

Omdat ons almal onvolmaak is, sal ons ander soms irriteer of aanstoot gee, en hulle sal dalk dieselfde aan ons doen (Romeine 3:23). Hoe kan ons die vrede met ons onvolmaakte medemens bewaar? Paulus is deur God geïnspireer om ons aan te spoor om verdraagsaam en vergewensgesind te wees. Hierdie raad is vandag nog net so toepaslik soos toe dit byna tweeduisend jaar gelede geskryf is. Kom ons beskou Paulus se woorde van naderby.

“Hou aan om mekaar te verdra.” Die woorde “hou aan om te verdra” is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat dui op verdraagsaamheid of toegeeflikheid. ’n Naslaanwerk sê dat Christene hierdie eienskap aan die dag lê deur “gewillig te wees om mense te verdra wie se foute of slegte eienskappe hulle irriteer”. Die woord “mekaar” toon dat hierdie soort verdraagsaamheid wedersyds moet wees. Dit wil sê, as ons onthou dat ons eienskappe het wat ander mense dalk irriteer, sal ons nie toelaat dat dit waarvan ons nie in ander hou nie, die vrede tussen ons en hulle versteur nie. Maar sê nou ander sondig teen ons?

“Hou aan om . . . mekaar vryelik te vergewe.” Volgens ’n geleerde is die Griekse woord wat as “vryelik vergewe” vertaal word, “nie die algemene woord vir kwytskelding of vergifnis nie . . . , maar een met ’n ryker betekenis wat klem lê op die genadige manier waarop die vergifnis geskenk word”. ’n Ander bron sê dat hierdie woord kan beteken “om iets aangenaams te skenk, ’n guns, ’n voordeel”. Ons toon dat ons genadig is deur gewilliglik te vergewe al het ons “rede tot klagte teen ’n ander”. Maar waarom moet ons bereid wees om so ’n guns te bewys? Een rede is dat die oortreder dalk kort voor lank dieselfde guns aan ons sal moet bewys deur ons te vergewe.

“Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.” Dit toon wat die vernaamste rede is waarom ons ander vryelik moet vergewe: Jehovah God vergewe ons vryelik (Miga 7:18). Dink vir ’n oomblik aan hoe Jehovah groot guns aan berouvolle sondaars bewys. In teenstelling met ons sondig Jehovah nooit nie. Nogtans vergewe hy berouvolle sondaars gewilliglik en volkome, al weet hy dat hierdie sondaars nooit dieselfde guns aan hom sal hoef te bewys deur hom te vergewe nie. Ja, Jehovah is die voortreflikste voorbeeld van iemand wat berouvolle sondaars vryelik vergewe!

Jehovah is die voortreflikste voorbeeld van iemand wat berouvolle sondaars vryelik vergewe!

Jehovah se barmhartigheid laat ons nader aan hom kom en beweeg ons om hom te wil navolg (Efesiërs 4:32–5:1). Ons kan ons gerus afvra: ‘As Jehovah so genadig is om my te vergewe, hoe kan ek dan weier om ’n ander onvolmaakte mens te vergewe wat teen my gesondig het en opreg berouvol is?’—Lukas 17:3, 4.