Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ná ’n egskeiding voort te gaan met die lewe

Hoe om ná ’n egskeiding voort te gaan met die lewe

“Dit het gevoel asof ek van ’n krans afgeval het. Jou lewe verloop heel goed, en dan het jy ewe skielik niks nie.”—MARK, * ’n jaar lank geskei.

“My man het ’n verhouding gehad met ’n vrou wat ons dogter se ouderdom was. Toe ons geskei het, was ek verlig dat ek nie meer sy slegte humeur hoef te verduur nie, maar ek het ook verneder en nutteloos gevoel.”—EMMELINE, 17 jaar lank geskei.

Party mense skei in die hoop dat dit hulle lewe sal verbeter, terwyl ander getroud wil bly, maar nie hulle huweliksmaat kan dwing om by hulle te bly nie. Tog vind byna almal wat skei, dat die lewe daarna moeiliker is as wat hulle verwag het. Trouens, as jy onlangs geskei is, sal jy dalk vind dat dit een van die spanningsvolste situasies is waarvoor jy ooit te staan sal kom. Dit sal dus nuttig wees om te kyk na praktiese raad in die Bybel wat jou kan help om die uitdagings van ’n egskeiding die hoof te bied.

UITDAGING 1: NEGATIEWE GEVOELENS.

Spanning wat met geldelike probleme, ouerskap en eensaamheid verband hou, kan oorweldigend wees, en die gevoelens gaan nie altyd gou weg nie. Die oorlede sielkundige Judith Wallerstein het gevind dat party persone jare ná ’n egskeiding nog steeds voel dat hulle verraai en in die steek gelaat is  en meen dat “die lewe onregverdig, teleurstellend en eensaam is”.

WAT JY KAN DOEN

  • Treur oor wat jy verloor het. Jy mis dalk die metgesel vir wie jy nog lief is. Al het julle ’n baie slegte verhouding gehad, is jy miskien hartseer omdat jy nie die vreugde smaak wat jy gehoop het die huwelik sou meebring nie (Spreuke 5:18). Moenie skaam wees om tyd opsy te sit “om te huil” nie.—Prediker 3:1, 4.

  • Moenie jou afsonder nie. Hoewel ’n mens alleen wil wees as jy treur, is dit onverstandig om jou lank af te sonder (Spreuke 18:1). Wees opbouend wanneer jy met vriende gesels, want as jy gedurig oor jou gewese huweliksmaat kla, selfs as die klagtes geldig is, kan dit maak dat ander jou begin vermy. As jy kort ná jou egskeiding belangrike besluite moet neem, moet jy iemand wat jy vertrou en wat die situasie objektief beskou, om hulp vra.

  • Sien om na jou gesondheid. Spanning as gevolg van ’n egskeiding veroorsaak dikwels fisiese probleme, soos hoë bloeddruk of migraines. Eet gesond, doen oefening en kry genoeg slaap.—Efesiërs 5:29.

  • Verwyder enigiets wat woede teenoor jou gewese huweliksmaat weer laat opvlam of wat jy nie nodig het nie, maar hou belangrike dokumente. As iets soos troufoto’s vir jou pyn veroorsaak, kan jy dit wegbêre en later vir jou kinders gee.

  • Stry teen negatiewe denke. Olga, wat haar man geskei het nadat hy egbreuk gepleeg het, het gesê: “Ek het my bly afvra: ‘Wat het sy wat ek nie het nie?’” Olga het egter later besef dat ’n aanhoudende getob oor negatiewe gedagtes ’n “verslae gees” tot gevolg kan hê.—Spreuke 18:14.

    Baie mense skryf hulle gedagtes neer omdat dit hulle help om helder te dink en hulle denke te beheer. As jy dit doen, kan jy aan ’n nuwe, positiewe gedagte probeer dink om die negatiewe gedagte waarteen jy stry, te vervang (Efesiërs 4:23). Kyk na twee voorbeelde:

    Ou gedagte: Dit is my skuld dat my maat ontrou was.

    Nuwe gedagte: My tekortkominge het my maat nie die reg gegee om ontrou aan my te wees nie.

    Ou gedagte: Ek het my beste jare vermors saam met die verkeerde man.

    Nuwe gedagte: Ek sal gelukkiger wees as ek vorentoe kyk, nie agtertoe nie.

  • Ignoreer kwetsende opmerkings. Welmenende vriende en familielede sê dalk dinge wat jou seermaak of wat selfs nie in jou geval waar is nie: ‘Sy was in elk geval nie ’n goeie vrou vir jou nie’ of ‘God haat egskeiding’. * Die Bybel sê tereg: “[Moenie] jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie” (Prediker 7:21). Martina, wat twee jaar lank geskei is, sê: “Ek probeer om nie te tob oor woorde wat seermaak nie, maar om eerder God se beskouing van sake te hê. Sy gedagtes is hoër as ons s’n.”—Jesaja 55:8, 9.

  • Bid tot God. Hy spoor sy aanbidders aan om ‘al hulle sorge op hom te werp’, veral wanneer hulle groot bekommernisse het.—1 Petrus 5:7.

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf Bybelverse neer wat vir jou nuttig is en sit dit waar jy dit dikwels sal sien. Baie geskeide persone het baat gevind by die tekste wat in hierdie artikel aangegee is, sowel as by die volgende verse: Psalm 27:10; 34:18; Jesaja 41:10 en Romeine 8:38, 39.

Laat God se Woord jou in moeilike tye onderskraag

UITDAGING 2: JOU VERHOUDING MET JOU GEWESE HUWELIKSMAAT.

Juliana, wat 11 jaar lank getroud was, sê: “Ek het my man gesmeek om te bly. Maar nadat hy my verlaat het, was ek woedend vir hom en die vrou by wie  hy ingetrek het.” Baie mense wat skei, bly jare lank bitter kwaad vir hulle gewese maat. Maar party moet gereeld kommunikeer, veral as hulle kinders het.

WAT JY KAN DOEN

  • Handhaaf ’n beleefde verhouding met jou gewese huweliksmaat. Konsentreer op die belangrike sake en wees kort en saaklik. Baie het gevind dat hierdie benadering vrede bevorder.—Romeine 12:18.

  • Vermy beledigende spraak. Veral wanneer jy voel dat jy aangeval word, is hierdie wyse raad in die Bybel van toepassing: “Iemand wat sy woorde inhou, besit kennis” (Spreuke 17:27). As jy ’n nuttelose gesprek nie in die regte rigting kan stuur nie, kan jy sê: “Ek moet dink oor wat jy gesê het en sal later met jou praat.”

  • Behartig julle sake sover moontlik afsonderlik, met inbegrip van regs-, finansiële en mediese verslae.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy weer met jou gewese huweliksmaat praat, moet jy op die uitkyk wees na tekens dat een van julle verdedigend of onbuigsaam begin optree. Indien nodig, kan jy vra of julle die gesprek later kan voortsit of die saak per e-pos kan bespreek.—Spreuke 17:14.

UITDAGING 3: HELP JOU KINDERS OM AAN TE PAS.

Maria vertel wat die situasie net ná haar egskeiding was: “My jongste dogter het die hele tyd gehuil en het weer haar bed begin natmaak. En hoewel my oudste dogter haar gevoelens probeer wegsteek het, kon ek ook in haar ’n verandering sien.” Ongelukkig voel jy dalk dat jy nie die tyd of emosionele energie het om jou kinders te help wanneer hulle jou die nodigste het nie.

WAT JY KAN DOEN

  • Spoor jou kinders aan om met jou te praat oor hulle gevoelens, al lei dit skynbaar tot “wilde praatjies”.—Job 6:2, 3.

  • Behou julle gepaste rolle. Hoewel jy dalk ’n behoefte aan emosionele ondersteuning het en jou kind blykbaar gewillig is om dit te bied, is dit onregverdig en ongesond om ’n kind te vra om met grootmensprobleme te help (1 Korintiërs 13:11). Moenie jou kind jou vertroueling maak of hom of haar gebruik as ’n middelaar of boodskapper tussen jou en jou gewese huweliksmaat nie.

  • Hou jou kind se lewe georganiseerd. Dit sal goed wees as julle in dieselfde huis kan bly woon en dieselfde program kan volg, maar dit is selfs belangriker om ’n goeie geestelike roetine te behou, wat Bybellees en gesinsaanbidding insluit.—Deuteronomium 6:6-9.

PROBEER DIE VOLGENDE: Verseker jou kinders die een of ander tyd hierdie week dat jy lief is vir hulle en dat dit nie hulle skuld is dat jy en jou maat geskei is nie. Beantwoord hulle vrae sonder om die ander ouer die skuld te gee.

Jy kan ná ’n egskeiding voortgaan met jou lewe. Melissa, wat 16 jaar lank getroud was, sê: “Toe ek geskei is, het ek gedink: ‘Dit is nie hoe ek wou hê my lewe moet verloop nie.’” Maar nou is sy tevrede ondanks haar omstandighede. Sy sê: “Nadat ek opgehou het om die verlede te probeer verander, het ek baie beter gevoel.”

^ par. 2 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 18 God haat egskeiding wanneer dit met listigheid en verraderlikheid gepaardgaan. Maar as ’n huweliksmaat hoerery pleeg, gee God die onskuldige maat die reg om te besluit of hy of sy wil skei of nie (Maleagi 2:16; Matteus 19:9). Sien die artikel “Die Bybelse beskouing—Watter soort egskeiding haat God?” in die Ontwaak! van 8 Februarie 1994, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU AF . . .

  • Het ek myself werklik toegelaat om oor die egskeiding te treur?

  • Hoe kan ek enige gegriefdheid laat vaar wat ek nog teenoor my gewese huweliksmaat koester?