Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 1)

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 1)

 Ken jy ’n jong persoon wat ’n ernstige gesondheidsprobleem het? Het jy ’n siekte of gebrek wat jou verhinder om bedrywighede te geniet waaraan ander jongmense van jou ouderdom deelneem?

 Dan is dit net natuurlik as jy soms mismoedig voel. Maar die Bybel bevat twee baie vertroostende gedagtes.

  •   Jou Skepper, Jehovah God, is bewus van jou situasie. Wat meer is, hy gee vir jou om.—1 Petrus 5:7.

  •   Jehovah God se voorneme is om alle siektes te genees! Jy kan dit in die Bybel lees, in Jesaja 33:24 en Openbaring 21:1-4.

 Baie jongmense wat met moeilike gesondheidsprobleme te kampe het, het gevind dat hulle geloof in God en in sy beloftes hulle versterk. Kyk na vier voorbeelde.

 YEIMY

 Teen die tyd dat ek 11 was, het ek ’n rolstoel nodig gehad. Ek kan nie eenvoudige takies verrig nie, soos om selfs ligte voorwerpe op te tel.

 Toe ek vyf jaar oud was, is ek gediagnoseer met spierdistrofie, ’n siekte wat my spiere al hoe swakker laat word sodat dit vir my baie moeilik is om dinge te doen. Ek voel soms mismoedig omdat ek nie kan doen wat ander jongmense van my ouderdom kan doen nie. Maar my ouers en diegene in my gemeente ondersteun my fisies, emosioneel en geestelik. Ek is ’n voltydse bedienaar, en mede-Christene gaan dikwels saam met my wanneer ek Bybelstudies met belangstellendes hou.

 Jesus het gesê dat elke dag sy eie sorge het (Matteus 6:34). Ek probeer dus om van dag tot dag te lewe en vir my realistiese doelwitte te stel. Ek sien uit na God se nuwe wêreld, wanneer ek “die werklike lewe” sal kan geniet, sonder hierdie verswakkende siekte.—1 Timoteus 6:19.

 Om oor na te dink: Yeimy vind dit nuttig om ‘realistiese doelwitte te stel’. Hoe kan jy dit ook doen?—1 Korintiërs 9:26.

 MATTEO

 My rug het begin seer word toe ek ses jaar oud was, en die dokters het eers gesê dat dit groeipyne is. Maar ’n jaar later het hulle ontdek dat ’n gewas langs my ruggraat gegroei het.

 Ek het ’n operasie gehad, maar die chirurg kon net sowat 40 persent van die gewas verwyder. En toe—ná net twee maande—was die gewas weer net so groot soos voorheen! Sedertdien het ek baie ondersoeke, baie behandelings en baie teleurstellings gehad.

 Soms veroorsaak die gewas skerp pyne oral in my liggaam, maar veral in my rug en borskas. Nogtans probeer ek om nie behep te wees met my situasie nie. Ek herinner my daaraan dat ander ook verskriklike dinge verduur het en tog positief gebly het. Wat my die meeste help om ’n positiewe gesindheid te behou, is my vertroue dat Jehovah God eendag sy belofte gaan vervul om ’n einde aan alle lyding te maak.—Openbaring 21:4.

 Om oor na te dink: Hoe kan bepeinsing oor God se belofte om ’n einde aan alle lyding te maak, jou help om te volhard, soos dit Matteo gehelp het?—Jesaja 65:17.

 BRUNA

 Omdat ek nie siek lyk nie, dink party mense dalk dat ek lui is. Maar in werklikheid is dit vir my moeilik om enigiets te doen, soos om huistakies te verrig, te studeer of selfs uit die bed op te staan.

 Toe ek 16 was, is ek gediagnoseer met veelvuldige sklerose, ’n verswakkende siekte wat al hoe erger word. As gevolg daarvan kan ek nie eintlik werk nie en kan ek ook nie soveel in die Christelike bediening doen as wat ek wil nie. Ek lees dikwels 1 Petrus 5:7, wat sê: ‘Werp al julle sorge op God, want hy sorg vir julle.’ Die gedagte dat Jehovah vir elkeen van ons omgee, versterk my altyd.

 Om oor na te dink: Hoe kan dit jou help as jy, soos Bruna, jou sorge op Jehovah werp?—Psalm 55:22.

 ANDRÉ

 Party mense behandel my asof ek tien jaar oud is. Maar ek kan hulle nie blameer nie, want dit is immers hoe ek lyk.

 Toe ek twee jaar oud was, is ek gediagnoseer met ’n seldsame soort kanker wat in my ruggraat begin het en toe na my brein versprei het. Dokters het daarin geslaag om die siekte onder beheer te bring, maar die behandelings het my groei belemmer. Ek is nou net 1,37 meter lank. Baie mense glo my nie wanneer ek vir hulle sê dat ek 18 is nie!

 In die Christengemeente behandel mense my met waardigheid. Hulle bak my nie kinderagtige poetse, soos die kinders met wie ek op skool was nie. Ek probeer positief bly oor my situasie. Die beste ding wat met enigiemand kan gebeur, het immers met my gebeur—ek het Jehovah leer ken! Wat ek ook al moet verduur, ek is seker dat Jehovah altyd vir my sal sorg. Bepeinsing oor die wonderlike nuwe wêreld wat Jehovah God belowe het, help my om positief te bly.—Jesaja 33:24.

 Om oor na te dink: Waarom is dit, soos André gesê het, “die beste ding wat met enigiemand kan gebeur” as ’n mens Jehovah leer ken?—Johannes 17:3.