Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek genoeg slaap kry?

Hoe kan ek genoeg slaap kry?

 As jy besig is om wiskunde te dop, kan jy dink dat jy net harder moet leer. As jy nie so goed doen in sport nie, dink jy dalk dat jy net meer moet oefen. Maar in altwee gevalle het jy moontlik net meer slaap nodig. Kom ons kyk hoekom.

 Hoekom moet jy slaap?

 Geleerdes sê dat die meeste tieners tussen agt en tien uur slaap elke aand nodig het. Hoekom is dit belangrik dat jy genoeg slaap kry?

  •   Slaap help jou om helder te dink. Slaap is al “kos vir die brein” genoem. Dit kan jou help om beter te doen op skool, in sport en om probleme op te los.

  •   Slaap help jou om beter te voel en om in ’n goeie bui te wees. Mense wat te min slaap, sukkel om hulle emosies te beheer. Hulle voel hartseer of depressief, en hulle sukkel om met ander mense oor die weg te kom.

  •   Slaap help jou om ’n beter bestuurder te wees. Navorsing in die Verenigde State het bewys dat bestuurders tussen 16 en 24 “twee keer meer geneig is om slaperig te wees voor ’n ongeluk” in vergelyking met bestuurders tussen 40 en 59.

  •   Slaap help jou om gesonder te wees. Slaap help jou liggaam om sy selle, weefsel en bloedvate te herstel en gesond te hou. As jy genoeg slaap, is daar ’n kleiner kans dat jy oorgewig sal wees of diabetes of ’n beroerte sal kry.

Net soos ’n selfoon se battery herlaai moet word om te werk, so moet jy genoeg slaap kry om op jou beste te wees

 Wat hou jou wakker?

 Al het slaap al hierdie voordele, is daar nog steeds tieners wat nie genoeg slaap kry nie. Byvoorbeeld, Elaine wat 16 jaar oud is, sê:

 “My onderwyser het die klas gevra hoe laat almal gaan slaap. Die meeste het gesê omtrent tweeuur in die oggend. Ander het gesê omtrent vyfuur in die oggend. Net een student het gesê half tien in die aand.”

 Watter dinge kan keer dat jy genoeg slaap kry?

 Sosiale lewe. “Dis so maklik om laat wakker te bly en tyd te mors, veral op aande wanneer ek saam met my vriende uitgaan.” – Pamela.

 Verantwoordelikhede. “Ek is mal oor slaap, maar dis moeilik om genoeg te slaap met my besige rooster.” – Ana.

 Tegnologie. “My foon is een van die grootste redes hoekom ek nie genoeg slaap kry nie. Dis moeilik om nie daarna te kyk wanneer ek in die bed is nie.” – Anisa.

 Hoe kan jy genoeg slaap kry?

  •   Vra jouself hoe belangrik is slaap vir jou. Die Bybel sê: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). Slaap is nie ’n opsie nie, dis belangrik. Sonder slaap sal jy nie jou werk goed kan doen nie, en jy sal dalk selfs te moeg wees om uit te gaan!

  •   Vind uit wat die grootste rede is hoekom jy nie genoeg slaap kry nie. Byvoorbeeld, kuier jy laat saam met vriende? Voel jy dat jy te veel huiswerk en takies het om te doen? Hou jou selfoon jou te laat wakker of maak dit jou wakker nadat jy aan die slaap geraak het?

 Iets om oor te dink: Dit sal die moeite werd wees om genoeg slaap te kry al beteken dit dat jy jou moet inspan. Spreuke 21:5 sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.”

 Wat vir een persoon werk, sal natuurlik nie vir almal werk nie. Byvoorbeeld, party mense sê dat as jy ’n kort middagslapie vat, dit jou sal help om beter in die aand te slaap. Maar ander mense sê weer dat dit die teenoorgestelde uitwerking het. Vind uit wat vir jou die beste werk. Die volgende voorstelle kan help:

  •   Gee jouself tyd om te ontspan. As jy begin ontspan voordat jy gaan slaap, sal dit jou help om makliker aan die slaap te raak.

     “Dis goed om jou takies en ander verantwoordelikhede so vroeg as moontlik klaar te maak sodat jy nie daaroor bekommerd is wanneer jy moet gaan slaap nie.” – Maria.

  •   Neem beheer. Moenie toelaat dat jou omstandighede jou beheer nie. Neem eerder beheer van jou rooster sodat jy genoeg slaap kan kry.

     “Ek het ten minste agt ure se slaap nodig elke aand. So as ek vroeër as gewoonlik moet opstaan, dan tel ek terug om te sien hoe laat ek moet gaan slaap.” – Vincent.

  •   Skep ’n roetine. Jou liggaam kan geleer word om genoeg slaap te kry. Geleerdes stel voor dat jy op dieselfde tyd elke dag moet gaan slaap en opstaan. Probeer dit vir ’n maand en kyk of jy beter voel.

     “As jy elke aand op dieselfde tyd gaan slaap, sal jy die volgende dag meer energie hê. Dit sal jou help om meer te kan doen en dit beter te kan doen.” – Jared.

  •   Wees redelik as dit by jou sosiale lewe kom. Die Bybel sê dat jy “matig in gewoontes” moet wees, en dit sluit in wat jy in jou vrye tyd doen. – 1 Timoteus 3:2, 11.

     “Ek moes leer om minder in die aande te kuier. As ek te veel tyd aan ontspanning spandeer, gaan iets daaronder ly, en dis gewoonlik my slaap!” – Rebecca.

  •   Laat jou foon ook “slaap”! Vir ten minste ’n uur voordat jy gaan slaap, probeer om nie op die Internet te gaan of om laat in die nag boodskappe vir jou vriende te stuur nie. Om die waarheid te sê, party geleerdes waarsku dat die soort lig van ’n selfoon, ’n TV of ’n tablet dit moeiliker kan maak om aan die slaap te raak.

     “Mense verwag jy moet 24/7 beskikbaar wees. Maar as jy genoeg rus wil kry, moet jy jou foon wegsit.” – Julissa.