Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou mense skinder van my?

Sê nou mense skinder van my?

 Waarom dit seermaak

 Party skinderstories is kwaadwillig—byvoorbeeld ’n leuen wat bedoel is om jou reputasie te skend. Maar selfs al is die skinderstories nie so ernstig nie, kan dit nog steeds seermaak—veral as dit versprei word deur iemand wat jy gedink het ’n vriend is!—Psalm 55:12-14.

 “Ek het uitgevind dat ’n vriendin agter my rug sê dat ek nie vir ander mense omgee nie. Dit het my baie seergemaak! Ek kon nie verstaan hoekom sy so iets sou sê nie.”—Ashley.

 Feit: Hetsy die persoon wat die skinderstories versprei, ’n hegte vriend is of nie, dit is glad nie lekker om uit te vind dat ander mense slegte dinge oor jou sê nie.

 Die slegte nuus—Jy kan dit nie altyd voorkom nie

 Daar is verskeie redes waarom mense dalk skinder, insluitende:

 Opregte belangstelling. Mense is sosiaal. Daarom is dit net natuurlik dat ons met (en oor) mekaar praat. Om die waarheid te sê, die Bybel spoor ons aan om ’n mate van “persoonlike belangstelling” in ander te toon.—Filippense 2:4.

 “Mense is altyd die interessantste onderwerp om oor te praat!”—Bianca.

 “Ek moet erken dat ek daarvan hou om te weet wat in mense se lewe aangaan en om met ander daaroor te praat. Ek het geen idee hoekom nie—dis net lekker.”—Katie.

 Verveeldheid. In Bybeltye was daar mense wat “hulle vrye tyd met niks anders deurgebring [het] as om iets nuuts te vertel of aan te hoor nie” (Handelinge 17:21). Dit is vandag ook die geval!

 “Soms wanneer daar geen drama is nie, skep mense dit sodat hulle iets het om oor te praat!”—Joanna.

 Onsekerheid. Die Bybel waarsku ons met goeie rede teen die neiging om ons met ander te vergelyk (Galasiërs 6:4). Ongelukkig probeer party mense hulle onsekerhede verwerk deur negatiewe skinderstories te versprei.

 “Negatiewe skinderstories sê gewoonlik iets omtrent diegene wat dit versprei. Dit beteken dikwels dat hulle eintlik afgunstig is op die persoon van wie hulle skinder. Hulle versprei gerugte om beter oor hulleself te voel, om hulleself te oortuig dat hulle beter is as daardie persoon.”—Phil.

 Feit: Of jy daarvan hou of nie, mense sal oor ander praat—insluitende jou.

 Die goeie nuus—Dit hoef jou nie onder te kry nie

 Jy kan waarskynlik nie heeltemal voorkom dat mense van jou skinder nie, maar jy kan besluit hoe jy daarop sal reageer. As jy uitvind dat gerugte oor jou die rondte doen, het jy ten minste twee opsies.

 OPSIE 1: Ignoreer dit. Dikwels is die beste oplossing om jou eenvoudig nie daaraan te steur nie—veral as die gerug heeltemal ongegrond is. Pas die Bybel se raad toe: “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie.”—Prediker 7:9.

 “’n Gerug het die rondte gedoen dat ek met ’n seun uitgaan—iemand wat ek nooit eers ontmoet het nie! Dit was so belaglik dat ek dit net geïgnoreer het.”—Elise.

 “’n Goeie reputasie is die beste wapen teen skinderstories. Selfs al doen ’n slegte gerug oor jou die rondte, sal min mense dit glo as jy ’n goeie reputasie het. Die waarheid kom gewoonlik uit.”—Allison.

 Wenk: Skryf neer (1) wat oor jou gesê is en (2) hoe dit jou laat voel. Nadat jy jou ‘sê in jou hart gesê het’, sal dit dalk vir jou makliker wees om dit te ignoreer.—Psalm 4:4.

 OPSIE 2: Gaan praat met die persoon wat die skinderstorie versprei. In party gevalle sal jy dalk voel dat ’n gerug so ernstig is dat jy werklik moet gaan praat met die persoon wat dit versprei.

 “As jy gaan praat met die persone wat die skinderstories oor jou versprei, sal hulle dalk leer dat die dinge wat hulle sê, uiteindelik by die slagoffer uitkom. En jy kan die saak opklaar en hopelik die probleem oplos.”—Elise.

 Voordat jy met iemand gaan praat wat van jou geskinder het, kan jy oor die volgende Bybelbeginsels nadink en jou die bygaande vrae afvra.

  •   “Wanneer iemand op ’n saak antwoord voordat hy dit hoor, is dit dwaasheid” (Spreuke 18:13). ‘Het ek werklik al die feite? Het die persoon wat my van die skinderstorie vertel het, dalk misverstaan wat hy of sy gehoor het?’

  •   “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). ‘Is dit nou die beste tyd om te gaan praat met die een wat die skinderstorie versprei het? Is ek seker dat ek die saak objektief benader? Of sal dit beter wees om ’n bietjie te wag en my emosies te laat bedaar?’

  •   “Behandel ander soos jy behandel wil word” (Matteus 7:12, NET Bible). ‘Hoe sou ek graag genader wou word as die rolle omgekeer was? Waar en wanneer sou ek verkies om oor die probleem te praat? Watter woorde en houding sou die doeltreffendste wees?’

 Wenk: Voordat jy gaan praat met die persoon wat geskinder het, kan jy gerus neerskryf wat jy wil sê. Wag dan ’n week of twee en lees weer wat jy geskryf het. Kyk of jy enige veranderinge wil aanbring. Bespreek ook jou plan met een van jou ouers of ’n volwasse vriend(in), en vra hom of haar vir raad.

 Feit: Soos baie dinge in die lewe, is skinderstories iets wat jy nie altyd kan beheer nie. Maar dit beteken nie dat dit jou hoef te beheer nie!