Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek my emosies beheer?

Hoe kan ek my emosies beheer?

“Die een dag voel ek fantasties, en die volgende dag voel ek verskriklik. Dinge wat gister niks was nie, lê vandag soos ’n berg voor my.”—Carissa.

Voel dit vir jou asof jou emosies een dag op en een dag af is? a As jy so voel, kan hierdie artikel jou help!

 Hoekom dit gebeur

 Dit is algemeen vir tieners om die een oomblik gelukkig te wees en die volgende oomblik hartseer te voel. Selfs laat in jou tienerjare sal dit jou dalk verbaas hoe onvoorspelbaar jou emosies kan wees en hoe skielik dit kan verander.

 As dit vir jou moeilik is om te verstaan hoekom jou emosies een dag op en een dag af is, onthou net dat baie van hierdie gevoelens die gevolg is van veranderinge in jou hormone. Dit kan ook wees omdat jy onseker voel oor jouself of omdat jy nie weet wat gaan gebeur nie, maar dit is alles deel van grootword. Die goeie nuus is, jy kan verstaan en leer hoe om jou emosies te beheer.

 ’n Feit van die lewe: Dit is belangrik om te leer hoe om jou emosies te beheer terwyl jy nog jonk is. Wanneer jy groot is, sal daar verskillende situasies wees waarin dit vir jou nodig sal wees om jou emosies te beheer.

Negatiewe emosies is soos gate in die pad. Maar jy kan dit regkry om die ergste gate mis te ry

 Drie dinge wat jy kan doen

 Praat. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.

 “Ons het ’n familievriend wat vir my soos ’n tannie is. Sy luister regtig wanneer ek iets sê, en ek voel dat ek oor enigiets met haar kan praat. Wanneer ek die regte beskouing het van dinge, is sy trots op my, en as ek verkeerd is, help sy my reg op die beste manier moontlik.”—Yolanda.

 Wenk: In plaas daarvan om net met ander jongmense te praat, wie se emosies dalk ook die een dag op en die ander dag af is, praat met ’n ouer of ’n ander grootmens wat jy vertrou.

 Skryf. In die Bybel lees ons van Job. Toe hy deur ’n baie moeilike tyd gegaan het, het hy gesê: “Ek sal uiting gee aan my besorgdheid oor myself. Ek sal in die bitterheid van my siel praat!” (Job 10:1). Nog iets wat jy kan doen behalwe praat, is om oor jou gevoelens te skryf.

 “Ek het altyd ’n boekie by my om in te skryf. Wanneer iets gebeur wat my ontstel, skryf ek daaroor. Om te skryf help my regtig om my gevoelens te verwerk.”—Iliana.

 Wenk: Hou ’n dagboek waarin jy oor jou emosies en gevoelens kan skryf. Skryf neer wat dit veroorsaak het, en wat jy daaroor kan doen. Die werkblad wat saam met hierdie artikel gaan, kan jou daarmee help.

 Bid. Die Bybel sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:22.

 “Ek bid die heeltyd vir Jehovah wanneer ek ontsteld is. Ek voel altyd beter nadat ek uit my hart met hom gepraat het.”—Jasmine.

 Wenk: Al voel jy oorweldig, dink aan drie dinge in jou lewe waarvoor jy dankbaar kan wees. Wanneer jy tot Jehovah bid, vra vir hulp—maar sê ook dankie vir die goeie dinge in jou lewe.

a Hierdie artikel bespreek die emosionele veranderinge wat jongmense gewoonlik deurmaak. As jy sukkel met bipolêre versteuring of enige ander vorm van depressie, sien die artikel “Depressie—Wat kan ek doen?”