Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek my huiswerk klaarmaak?

Hoe kan ek my huiswerk klaarmaak?

 “Dit is uitputtend om tot een-uur in die oggend wakker te wees om huiswerk te doen. Al waaraan jy kan dink, is om te gaan slaap.” – David.

 “Partykeer het ek tot 4:30 in die oggend gestudeer en dan het ek 6:00 opgestaan om skool toe te gaan. Dit was baie erg!” – Theresa.

 Voel jy toegegooi onder al die huiswerk? As jy so voel, kan hierdie artikel jou help.

 Hoekom gee onderwysers huiswerk?

 Huiswerk help jou om . . .

  •   meer dinge te leer en te verstaan

  •   verantwoordelik te wees

  •   jou tyd goed te gebruik

  •   te verstaan hoe jy die inligting in jou lewe kan gebruik a

 “Onderwysers gee huiswerk sodat hulle kan seker maak dat hulle studente verstaan en onthou wat hulle leer in plaas daarvan dat dit by die een oor ingaan en die ander oor uit.” – Marie.

 Wiskunde en wetenskap help veral om jou vermoë te verbeter om probleme op te los. En kenners sê dat dit nuwe konneksies in jou brein skep en help om hierdie konneksies sterker te maak. So huiswerk is soos oefening vir jou brein!

 Of jy die voordele sien of nie, huiswerk is deel van jou lewe en jy moet dit maar net doen. Die goeie nuus is: Al het jy nie ’n sê in hoeveel huiswerk jy kry nie, kan jy minder tyd daaraan spandeer om dit klaar te maak. Kom ons kyk hoe jy dit kan doen.

 Studie-wenke

 As jy sukkel om klaar te kry met jou huiswerk, is die oplossing dalk om ’n plan van aksie te hê. Probeer die volgende.

  •   Studie-wenk 1: Beplan vooruit. Die Bybel sê: “Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses” (Spreuke 21:5). Maak seker jy het alles wat jy nodig het om jou huiswerk te doen voordat jy begin. Dan hoef jy nie later tyd te mors om vir dinge te soek nie.

     Kies ook ’n plek waar jy kan konsentreer. Party vind dat ’n stil plek met genoeg lig die beste is. Ander voel weer dat dit beter is om iewers anders te werk, soos die biblioteek.

     “Dit sal jou help om jou tyd beter te gebruik as jy ’n boek het waarin jy al jou huiswerk kan neerskryf en wanneer jy beplan om dit te doen. Jy sal baie minder stres as jy presies weet watter huiswerk gedoen moet word en wanneer dit klaar moet wees.” – Richard.

  •   Studie-wenk 2: Organiseer jou werk. Die Bybel sê: “Laat alles . . . ordelik plaasvind” (1 Korintiërs 14:40). Met dit in gedagte, besluit watter werk jy eerste wil doen en wat jy volgende gaan doen.

     Party hou daarvan om met die moeilike werk te begin. Ander verkies om eers die maklike werk klaar te maak, want dit motiveer hulle om die res te doen. Besluit watter metode die beste vir jou werk.

     “Dit help baie as jy ’n lys maak van wat jy moet doen en wat die belangrikste is. Op hierdie manier voel jy in beheer van jou huiswerk en voel jy nie dat dit te veel raak nie.” – Heidi.

  •   Studie-wenk 3: Spring aan die werk. Die Bybel sê: “Wees hardwerkend, nie lui nie” (Romeine 12:11). Jy is dalk lus om ander dinge te doen. Maar moenie jou tyd hiervoor gebruik as jy eintlik jou huiswerk moet doen nie.

     Iemand wat altyd dinge uitstel, sal moontlik nie klaarkry met hulle huiswerk nie of hulle sal moet jaag om dit klaar te kry. Daarom sal hulle nie hulle werk so goed kan doen of so hard kan leer nie. Jy kan onnodige stres en hartseer vermy as jy so gou as moontlik met jou huiswerk begin.

     “Wanneer ek dadelik ná skool met my huiswerk begin het of met ’n taak begin het so gou as wat ek dit gekry het, het ek nie nodig gehad om later daaroor te stres nie. En dit het ook nie met ander aktiwiteite ingemeng nie.” – Serina.

     VOORSTEL: Doen jou huiswerk op dieselfde tyd elke dag. Dit sal jou meer selfdissipline gee en jou help om in ’n roetine te bly.

  •   Studie-wenk 4: Bly gefokus. Die Bybel sê: “Hou jou oë gefokus op wat voor jou is” (Spreuke 4:25). As jy hierdie raad volg terwyl jy studeer, moet jy nie toelaat dat dinge jou aandag aftrek nie veral nie tegnologie nie.

     As jy tyd mors op die Internet of om boodskappe te stuur, kan dit twee keer so lank vat om jou huiswerk klaar te maak. Maar as jy gefokus bly, sal jy minder stres en ook meer tyd vir jouself hê.

     “Dis moeiliker om te fokus as gevolg van selfone, rekenaars, videospeletjies en die TV. Wat my help, is om my selfoon af te sit, asook enige ander dinge wat my aandag aftrek.” – Joel.

  •   Studie-wenk 5: Wees gebalanseerd. Die Bybel sê: “Laat julle redelikheid . . . bekend word” (Filippense 4:5). Rus ’n bietjie as dit nodig is. Dan sal dit nie so stresvol wees om jou huiswerk te doen nie. Gaan stap ’n bietjie, ry jou fiets of gaan hardloop.

     As jy nog steeds voel asof jy toegegooi is onder huiswerk, praat met jou onderwyser. As hulle sien dat jy regtig jou bes probeer, kan hulle besluit om iets daaraan te doen.

     “Moenie toelaat dat huiswerk jou baie ongelukkig maak of uitstres nie. Doen jou beste. Dit is nie die moeite werd om jouself ongelukkig te maak en dit oor huiswerk nie.” – Julia.

 Vrae wat jy jouself kan vra:

  •   Watter dinge het ek nodig om my huiswerk te doen?

  •   Wanneer is die beste tyd vir my om my huiswerk te doen?

  •   Waar sal ek die beste kan konsentreer?

  •   Hoe kan ek keer dat ek dinge uitstel?

  •   Wat kan dalk my aandag aftrek?

  •   Hoe kan ek keer dat dinge my aandag aftrek?

  •   Hoe kan ek seker maak dat huiswerk my nie te veel uitstres nie?

 IETS OM TE ONTHOU: Maak seker jy verstaan wat jy vir huiswerk moet doen. As jy ’n vraag het, vra jou onderwyser voordat jy huis toe gaan.

a Hierdie punte kom uit die boek School Power deur Jeanne Schumm.