Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek ophou om aan seks te dink?

Hoe kan ek ophou om aan seks te dink?

 “Ek dink soms skielik aan seks en dan kan ek aan niks anders dink nie. Dit is asof iemand anders se brein in my kop is.” – Vera.

 “Dit is amper onmoontlik om nie aan seks te dink nie. Ek kan net so goed van ’n gebou afspring en hoop om te vlieg.” – John.

 Voel jy soos Vera of John? As jy soos hulle voel, sal hierdie artikel jou help.

 Waarom maak dit saak?

 ’n Jong man met die naam Alex sê: “My oom het vir my gesê dat as God nie wou gehad het dat ek seks moes hê nie, sou hy nie vir my die begeerte gegee het om dit te wil doen nie.”

 ’n Deel van wat Alex se oom gesê het, is reg – God het vir ons seksuele begeertes gegee, en met goeie rede. Mense sou nie vandag bestaan het as dit nie vir voortplanting was nie. So hoekom moet jy probeer om nie te veel oor seks te dink nie? Hier is twee goeie redes:

  •   Die Bybel leer dat dit God se wil is dat seks net moet gebeur tussen ’n man en vrou wat met mekaar getroud is. – Genesis 1:28; 2:24.

     As jy hierdie standaard respekteer en as jy nie getroud is nie, gaan dit jou net frustreer om die heeltyd aan seks te dink. Dit kan jou selfs in die versoeking bring om seks te hê – ’n besluit waaroor baie mense al later spyt was.

  •   Om nie die heeltyd aan seks te dink nie, behels iets belangriker – selfbeheersing.1 Korintiërs 9:25.

 Hierdie eienskap speel ’n belangrike rol om nou en in die toekoms suksesvol te wees. Om die waarheid te sê, party navorsers het gevind dat kinders wat selfbeheersing het, minder geneig is om later in hulle lewe gesondheidsprobleme, finansiële stres en probleme met die polisie te hê. a

 Hoekom is dit so moeilik?

 Ons lewe in ’n wêreld waar mense die heeltyd oor seks dink en praat. Dit en jou hormone kan dit moeilik maak om nie die heeltyd aan seks te dink nie.

 “Baie TV-programme laat dit lyk asof dit ’n goeie ding is om seks voor die huwelik te hê en dat daar geen gevare is nie. Dis maklik om verkeerde gedagtes te hê wanneer daar gewys word dat seks buite die huwelik nie slegte gevolge het nie.” – Ruth.

 “Ek hoor baie keer hoe mense by die werk openlik oor seks praat, en dit maak my nuuskierig. Mense laat dit lyk asof seks buite die huwelik so normaal is, en dan is dit moeilik om dit as verkeerd te beskou.” – Nicole.

 “’n Mens is soms nie so versigtig as jy na foto’s op sosiale media kyk nie. Een seksuele prentjie kan in jou brein ingebrand word en dan kan dit baie moeilik wees om dit te vergeet!” – Maria.

 As gevolg van hierdie redes voel jy dalk soos die apostel Paulus. Hy het geskryf: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig.” – Romeine 7:21.

Moenie toelaat dat verkeerde gedagtes ’n nes op jou kop maak nie

 Wat jy kan doen

 Dink oor iets anders. Probeer om op ander dinge te fokus in plaas van seks. Dit kan sport, oefening of enigiets insluit wat jy geniet om te doen. ’n Jong vrou met die naam Valerie sê: “Dit help om die Bybel te lees. Dit bevat gedagtes oor God en wanneer jy oor God dink, is dit moeilik om oor enigiets anders te dink.”

 Dit kan soms gebeur dat ons oor seks dink. Maar wat jy daaroor doen, is jou keuse. Jy kan kies om nie daaroor te dink nie.

 “Wanneer ek aan seks begin dink, forseer ek myself om aan iets anders te dink. Ek probeer vasstel wat my aan seks laat begin dink het – soms is dit ’n liedjie of ’n foto op my foon wat ek moet afhaal.” – Helena.

 Bybelwaarheid: “Alles wat regverdig is, alles wat kuis [of rein] is, . . . hou aan om hierdie dinge te bedink.” – Filippense 4:8.

 Kies goeie vriende. As jou vriende altyd oor seks praat, sal dit vir jou moeilik wees om nie aan seks te dink nie.

 “As ’n tiener was dit vir my moeilik om nie oor verkeerde dinge te dink nie, en een van die oorsake was my vriende. Wanneer jy tyd spandeer met mense wat verkeerde begeertes aanmoedig, fokus jy op daardie begeertes – en dan gooi jy net olie op die vuur.” – Sarah.

 Bybelwaarheid: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte [of dom mense] inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” – Spreuke 13:20.

 Vermy verkeerde vermaak. Almal weet dat amper elke soort vermaak dinge bevat wat met seks te doen het. Nicole sê: “Musiek is die ding wat my die meeste beïnvloed. Dit kan my begeertes so sterk laat word dat ek dit nie kan beheer nie.”

 “Ek het flieks en TV-programme begin kyk wat seksuele dinge bevat. Voor ek my kom kry het, het ek baie oor seks gedink. Dit was maklik om uit te vind hoekom ek sulke gedagtes gehad het. Toe ek opgehou het om daardie flieks en TV-programme te kyk, het ek nie meer so baie oor seks gedink nie. As jy jou vermaak versigtig kies, is dit baie makliker om nie oor verkeerde goed te dink nie.” – Joanne.

 Bybelwaarheid: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie.” – Efesiërs 5:3.

 Kortliks: Party mense dink dat hulle seksuele begeertes so belangrik is dat hulle dit nie kan of moet beheer nie. Maar die Bybel sê iets anders. Die Bybel leer dat ons ons gedagtes kan beheer, en dit wys dat wat ons doen, baie belangrik is vir God.

 Bybelwaarheid: ‘Julle moet vernuwe word in die krag wat julle verstand aandryf.’ – Efesiërs 4:23.

a Getroude paartjies moet ook selfbeheersing hê – dis nog ’n rede om nou al, terwyl jy ongetroud is, hierdie eienskap te ontwikkel.