Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 2)

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 2)

 Daar is baie verskillende gesondheidsprobleme.

  •   By party mense is die simptome sigbaar, maar by ander nie.

  •   Party gesondheidsprobleme is tydelik, terwyl ander chronies is en elke dag uitdagings bied.

  •   Party siektes kan genees of ten minste beheer word, terwyl ander al hoe erger word—en selfs lewensgevaarlik kan wees.

 Jongmense ondervind al die verskillende gesondheidsprobleme wat hier genoem word. In hierdie artikel sal jy oor vier jongmense met sulke probleme lees. As jy ’n gesondheidsprobleem het, sal hulle kommentare jou moontlik aanmoedig.

 GUÉNAELLE

 Vir my is dit baie moeilik om my beperkings te aanvaar. Ek wil so baie dinge doen, maar ek moet elke dag my beperkings in aanmerking neem.

 Ek het ’n motorneuronsiekte wat verhinder dat my brein inligting behoorlik na my liggaam stuur. Verskillende dele van my liggaam, van kop tot tone, bewe soms of raak verlam. Dit is vir my moeilik om eenvoudige dinge te doen, soos om te beweeg, te praat, te lees, te skryf en ander te verstaan. As dinge vir my te erg raak, bid die ouer manne in my gemeente saam met my. Wanneer hulle dit doen, voel ek dadelik kalmer.

 Ongeag watter probleme ek ondervind, ek weet dat Jehovah God altyd daar is om my te onderskraag. Ek wil nie hê dat my siekte my moet verhinder om hom ten volle te dien nie. Ek maak dit ’n prioriteit om ander te vertel van die Bybel se belofte dat Jehovah God binnekort die aarde in ’n paradys gaan omskep, waar daar nie meer lyding sal wees nie.—Openbaring 21:1-4.

 Iets om oor na te dink: Hoe kan jy, soos Guénaelle, jou medelye vir ander toon?—1 Korintiërs 10:24.

 ZACHARY

 Toe ek 16 was, is ek met ’n aggressiewe vorm van breinkanker gediagnoseer. Die dokters het vir my gesê dat ek net agt maande het om te lewe. Ek veg sedertdien vir my lewe.

 Weens die ligging van die gewasse is die regterkant van my liggaam nou verlam. Aangesien ek nie kan loop nie, moet daar altyd iemand by die huis wees om my te help.

 Ek kan nou ook nie meer duidelik kommunikeer nie. Ek was altyd ’n baie aktiewe persoon wat aktiwiteite soos waterski, basketbal en vlugbal geniet het. As een van Jehovah se Getuies was ek bedrywig in die Christelike bediening. Ek dink nie die meeste mense verstaan hoe dit voel om nie meer die dinge te kan doen waarvoor jy so lief is nie.

 Die woorde in Jesaja 57:15 is vir my aanmoedigend, want dit verseker my dat Jehovah God daar is vir diegene wat ‘verbrysel is van gees’ en dat hy vir my omgee. En Jesaja 35:6 bevat Jehovah se belofte dat ek weer sal kan loop en hom met volmaakte gesondheid sal kan dien.

 Hoewel dit soms baie moeilik is om my siekte te verduur, is ek daarvan oortuig dat Jehovah my onderskraag. Danksy gebed het ek altyd iemand om mee te praat wanneer ek terneergedruk voel of bang is om dood te gaan. Niks kan my skei van Jehovah se liefde nie.—Romeine 8:39.

 Zachary is twee maande ná hierdie onderhoud, op 18-jarige ouderdom, dood. Sy geloof in God se belofte van ’n opstanding op ’n paradysaarde het tot die einde toe sterk gebly.

 Iets om oor na te dink: Hoe kan gebed jou help om, soos Zachary, in God se liefde te bly?

 ANAÏS

 Toe ek net ’n paar dae oud was, het ek bloeding op die brein gehad, en dit het my hele liggaam, veral my bene, aangetas.

 Ek kan kort afstande met ’n loopraam loop, maar ek het gewoonlik ’n rolstoel nodig om rond te beweeg. Ek kry ook spasmas, wat dit vir my moeilik maak om dinge te doen wat presiese bewegings verg, soos om te skryf.

 Nie net is my toestand baie stresvol nie, maar my behandeling is ook ’n uitdaging. Ek kry al so lank as wat ek kan onthou, ’n paar keer per week fisioterapie. Ek het my eerste groot operasie gehad toe ek vyf jaar oud was, en ek het sedertdien nog drie gehad. Die laaste twee prosedures was vir my veral moeilik omdat ek drie maande lank van die huis af weg was terwyl ek aangesterk het.

 My gesin is vir my ’n groot hulp. Ons lag saam, en dit help my baie wanneer ek terneergedruk voel. My ma en my susters help my om mooi te lyk, aangesien ek dit nie op my eie kan doen nie. Ek sou baie graag hoëhakskoene wou dra, maar ek kan nie. Ek het dit darem een keer as ’n kind gedoen deur met skoene aan my hande rond te kruip, en ons almal het lekker daaroor gelag!

 Ek probeer om nie toe te laat dat my situasie bepaal wie ek is nie. Ek bestudeer tale. Ek swem, wat vergoed vir die feit dat ek nie kan brander- of sneeuplank ry nie. As een van Jehovah se Getuies is dit vir my lekker om aan die bediening deel te neem om ander van my geloof te vertel. Mense luister dikwels aandagtig wanneer ek met hulle praat.

 My ouers het my van kleins af geleer dat my toestand net tydelik is. Ek het self geloof opgebou in Jehovah en in sy belofte om ’n einde aan alle lyding, insluitende myne, te maak. Dit gee my die krag om voort te gaan.—Openbaring 21:3, 4.

 Iets om oor na te dink: Hoe kan jy, soos Anaïs, voorkom dat jou gesondheidsprobleem “bepaal” wie jy is?

 JULIANA

 Ek het ’n pynlike outo-immuunsiekte wat die hart, longe en bloed kan aantas. Dit het reeds my niere aangetas.

 Ek was tien jaar oud toe ek gediagnoseer is met lupus, ’n siekte wat pyn, moegheid en gemoedswisselinge veroorsaak. Soms voel ek waardeloos.

 Toe ek 13 was, het een van Jehovah se Getuies ons huis besoek. Sy het vir my Jesaja 41:10 gelees, waar Jehovah God sê: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. . . . Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.” Ek het toe die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Vandag, sowat agt jaar later, dien ek God heelhartig, en ek is vasbeslote om nie toe te laat dat my siekte my lewe beheer nie. Ek voel dat Jehovah my “krag wat bo die normale is”, gee sodat ek ’n positiewe gesindheid kan behou.—2 Korintiërs 4:7.

 Iets om oor na te dink: Hoe kan Jesaja 41:10 jou help om, soos Juliana, ’n positiewe gesindheid te behou?