Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek doen nadat ek gedoop is? – Deel 1: Bly by jou geestelike roetine

Wat moet ek doen nadat ek gedoop is? – Deel 1: Bly by jou geestelike roetine

 ’n Mens moet mooi na jou waardevolle besittings kyk, soos jou huis of jou kar. Dit is dieselfde wanneer dit kom by jou vriendskap met God. Hoe kan jy jou vriendskap met God sterk hou ná jou doop?

In hierdie artikel

 Hou aan om God se Woord te studeer

 Belangrike teks: “[Hou aan] om vrugte te dra in elke goeie werk en te groei in die akkurate kennis van God.” – Kolossense 1:10.

 Wat dit beteken: Ná jou doop moet jy aanhou om die Bybel te lees en om na te dink oor wat jy leer. – Psalm 25:4; 119:97.

 Wat om te verwag: Partykeer sal jy nie lus wees om te studeer nie. Miskien dink jy dat jy net nie die soort mens is wat kan sit en studeer nie.

 Wat jy kan doen: Leer meer oor Bybelonderwerpe waarin jy belangstel. Werk jou eie studieprogram uit – een wat nie te moeilik is om by te bly nie. Wanneer jy studeer, moet dit jou doelwit wees om jou liefde vir Jehovah en sy Woord te versterk. As jy op hierdie manier studeer, sal dit jou bevoordeel en sal jy dit ook geniet. – Psalm 16:11.

 Wenk: Om die meeste voordeel uit jou studie te kry, moet jy probeer om dit in ’n stil plek te doen waar jou aandag nie afgetrek sal word nie.

 Het jy meer hulp nodig?

 Hou aan om tot Jehovah te bid

 Belangrike teks: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank.” – Filippense 4:6.

 Wat dit beteken: Om met God te kommunikeer, beteken dat jy na hom luister wanneer jy sy Woord lees en met hom praat wanneer jy bid. Wanneer jy bid, kan jy God vra vir die dinge wat jy nodig het en vir hom dankie sê vir die seëninge wat jy ontvang het.

 Wat om te verwag: Partykeer kan dit begin voel asof jou gebede nie meer so betekenisvol is nie. Jy begin dalk selfs twyfel of Jehovah regtig na jou gebede luister en of hy in jou belangstel. – Psalm 10:1.

 Wat jy kan doen: Dink deur die dag aan dinge waaroor jy kan bid. As jou situasie jou nie toelaat om dadelik ’n lang gebed te doen nie, besluit om later in die dag daaroor te bid. Moenie net vir jouself bid nie. Onthou om ook vir ander te bid. – Filippense 2:4.

 Wenk: As jou gebede dalk nie meer so betekenisvol is nie, bid tot Jehovah daaroor. Hy wil oor al jou bekommernisse hoor, insluitende dié oor jou gebede. – 1 Johannes 5:14.

 Het jy meer hulp nodig?

 Hou aan om ander oor jou oortuigings te vertel

 Belangrike teks: “Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou onderrigting. . . . Want so sal jy jouself red en dié wat na jou luister.” – 1 Timoteus 4:16.

 Wat dit beteken: Wanneer jy met ander oor jou oortuigings praat, versterk jy ook jou eie geloof. As jy dit doen, kan jy die lewens red van dié wat na jou luister, sowel as jou eie lewe.

 Wat om te verwag: Jy sal dalk nie altyd lus voel om met ander oor jou oortuigings te praat nie. Jy sal miskien selfs bang wees om dit te doen, veral by die skool.

 Wat jy kan doen: Moenie toelaat dat negatiewe gevoelens, soos vrees, jou besluite beheer nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Maar selfs al [maak ek die goeie nuus bekend] teen my sin, het ek nog steeds ’n bestuurderskap wat aan my gegee is.” – 1 Korintiërs 9:16, 17.

 Wenk: Met die toestemming van jou ouers, kry iemand wat vir jou ’n rolmodel kan wees. Dit moet ’n mede-aanbidder wees wat ’n goeie voorbeeld in die bediening stel. – Spreuke 27:17.

 Het jy meer hulp nodig?

  •   Lees:

     Waarom is ek bang om oor my geloof te praat?

 Hou aan om Christelike vergaderinge by te woon

 Belangrike teks: “Laat ons aandag skenk aan mekaar sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor. Ons moenie ons vergaderingbywoning verwaarloos . . . nie.” – Hebreërs 10:24, 25.

 Wat dit beteken: Die belangrikste rede hoekom ons die vergaderinge bywoon, is om Jehovah te aanbid. Maar daar is nog twee goeie redes hoekom ons die vergaderinge bywoon. Eerstens, jy word aangemoedig deur die broers en susters. Tweedens, jy moedig hulle aan wanneer jy die vergaderinge bywoon en antwoorde gee. – Romeine 1:11, 12.

 Wat om te verwag: Partykeer kan jou gedagtes gedurende die vergaderinge begin dwaal. Dit kan veroorsaak dat jy uitmis op waardevolle onderrigting. Jy kom dalk in die versoeking om party vergaderinge te mis. Of jy fokus dalk te veel op ander dinge, soos jou skoolwerk, wat veroorsaak dat jy nie by al die vergaderinge uitkom nie.

 Wat jy kan doen: Sonder om jou skoolwerk af te skeep, wees vasbeslote om die vergaderinge gereeld by te woon. Maak dit jou doelwit om soveel as moontlik daaruit te leer. Neem deel aan die vergaderinge deur antwoorde te gee. Ná die vergadering sê vir ten minste een persoon dankie vir hulle deelname.

 Wenk: Berei voor vir die vergadering. Laai die JW Library®-app af, en kliek op “Vergaderinge” om te sien wat by elke vergadering bespreek gaan word.

 Het jy meer hulp nodig?

  •   Lees:

     Waarom moet ek Christelike vergaderinge bywoon?