Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe moet ek voel as iemand my probeer reghelp?

Hoe moet ek voel as iemand my probeer reghelp?

 Toets jouself

 Ons almal moet partykeer reggehelp word. Dit kan ons help om ons werk en ons houding te verbeter. Kyk na die volgende situasies.

  1.  Jou onderwyser sê vir jou dat jy nie genoeg ingesit het met jou laaste taak nie. “Jy moet meer navorsing doen”, sê hy.

     Hoe reageer jy hierop?

    1.   Ignoreer dit. (‘Die onderwyser hou nie van my nie.’)

    2.   Aanvaar dit. (‘Hierdie raad kan my help met my volgende taak.’)

  2.  Jou ma sê vir jou dat jou kamer deurmekaar is – al het jy dit nou net skoongemaak.

     Hoe reageer jy hierop?

    1.   Ignoreer dit. (‘Sy is nooit tevrede nie.’)

    2.   Aanvaar dit. (‘Ek erken dat ek dit beter kon gedoen het.’)

  3.  Jou jonger suster sê vir jou dat sy nie daarvan hou as jy die heeltyd vir haar sê wat om te doen nie.

     Hoe reageer jy hierop?

    1.   Ignoreer dit. (‘Wie is sy om te praat?’)

    2.   Aanvaar dit. (‘Ek kan seker vriendeliker met haar wees.’)

 Party jongmense is so sensitief, dit ontstel hulle verskriklik wanneer hulle reggehelp word. Is jy so? As jy so is, mis jy uit! Hoekom? Want dit is belangrik dat jy leer om reg te reageer wanneer jy reggehelp word. Dit sal jou nou en in die toekoms help.

Moenie die kans laat verbygaan om te hoor wat jy moet hoor nie, net omdat jy nie dit wil hoor nie

 Hoekom is dit nodig dat ek reggehelp moet word?

  •   Want jy is nie volmaak nie. Die Bybel sê: “Ons almal maak dikwels foute” (Jakobus 3:2, voetnoot). En daarom moet almal reggehelp word.

     “Ek probeer onthou dat ons almal onvolmaak is en om foute te maak is deel van die lewe. So wanneer ek reggehelp word, probeer ek om daaruit te leer en nie dieselfde fout te maak nie.” – David.

  •   Want jy kan beter doen. Die Bybel sê: “Gee raad aan ’n wyse persoon, en hy sal nog wyser word” (Spreuke 9:9). Raad kan jou help as jy dit aanvaar.

     “Ek het nie die regte houding gehad as iemand my wou reghelp nie. Ek het gedink dat dit my laat sleg lyk. Maar ek aanvaar dit nou en ek vra selfs vir raad. Ek wil weet hoe ek beter kan doen.” – Selena.

 Dit is natuurlik een ding as jy vra dat iemand jou eerlik moet reghelp. Maar dit is iets heeltemal anders as iemand jou reghelp sonder dat jy daarvoor gevra het. Natalie onthou ’n kaartjie wat sy ontvang het. Op die kaartjie was daar raad waarvoor sy nie gevra het nie. Sy sê: “Ek was geskok en moedeloos. Ek het so hard probeer en al wat ek gekry het, was raad!”

 Het so iets al ooit met jou gebeur? Hoe kan jy dit hanteer?

 Hoe kan ek opbouende raad aanvaar?

  •   Luister.

     Die Bybel sê: “’n Man wat kennis het, hou sy woorde terug, en ’n man wat insig het, sal kalm bly” (Spreuke 17:27). Laat die persoon klaar praat. En dink voordat jy praat. Jy sê dalk iets waaroor jy later spyt gaan wees!

     “Wanneer ek reggehelp word, is ek gou op my perdjie. Eintlik moet ek daaruit leer en volgende keer beter doen.” – Sara.

  •   Fokus op die raad, nie die persoon nie.

     Jy is dalk geneig om op die persoon se swak punte te fokus. Maar dit is baie beter om die Bybel se raad te volg. Dit sê: “[Wees] gou . . . om te hoor, stadig om te praat, stadig om kwaad te word” (Jakobus 1:19). Gewoonlik is daar ’n bietjie waarheid in die raad wat vir jou gegee word. Moenie die kans laat verbygaan om te hoor wat jy moet hoor nie, net omdat jy nie dit wil hoor nie.

     “Ek het altyd kwaad geword en gesê: ‘Ek weet, ek weet’, wanneer my ouers vir my raad gegee het. Maar wanneer ek regtig na hulle luister en hulle raad volg, is die resultate beter.” – Edward.

  •   Moenie te veel of te min van jouself dink nie.

     Wanneer jy reggehelp word, beteken dit nie dat jy ’n mislukking is nie. Dit beteken net jy is onvolmaak, soos enigiemand anders. Selfs die persoon wat jou reggehelp het, het ook nou en dan raad nodig. Die Bybel sê: “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat altyd doen wat goed is en nooit sondig nie” (Prediker 7:20).

     “’n Vriend het vir my raad gegee, en ek het nie gedink dat ek dit nodig het nie. Ek het vir haar dankie gesê vir haar eerlikheid, maar ek was omgekrap. Later het ek besef dat wat sy gesê het, waar is. Haar raad het my gehelp om te sien waaraan ek moet werk. As dit nie vir haar was nie, sou ek dalk nooit geweet het waaraan ek moes werk nie.” – Sophia.

  •   Maak dit jou doel om beter te doen.

     Die Bybel sê: “’n Verstandige persoon aanvaar teregwysing” (Spreuke 15:5). Wanneer jy dit aanvaar, sal dit jou help om oor jou gevoelens te kom. Dit sal jou ook help om te werk aan die punt waarop jy raad gekry het. Beplan wat jy gaan doen, en hou boek van jou vordering oor die volgende paar maande.

     “Om raad te aanvaar, beteken dat jy eerlik met jouself moet wees. Jy moet jou foute erken, jammer sê daarvoor en leer om te verbeter.” – Emma.

 Die slotsom: Die Bybel sê: “Mense leer bymekaar, net soos yster deur yster geslyp word” (Spreuke 27:17, Good News Translation). Opbouende raad is iets wat van jou ’n beter mens kan maak, nou en wanneer jy ouer is.