Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ek skool vroeg verlaat?

Moet ek skool vroeg verlaat?

 “Ek haat skool!” As jy so voel, sal jy dalk skool wil verlaat. Hierdie artikel sal vir jou ’n paar beter opsies gee.

 Hoekom party skool vroeg verlaat

 ’n Paar van die redes wat kenners opgelet het, sluit in:

  •   Akademiese uitdagings. ‘My punte raak net al hoe swakker.’

  •   Geen belangstelling. ‘Ek sien nie hoekom ek moet aanhou leer nie.’

  •   Finansiële probleme. ‘Ek moet werk om my familie te help ondersteun.’

 Dink aan die gevolge

 Die Bybel sê: “Die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen” (Spreuke 14:15). Die les? As jy daaraan dink om skool vroeg te verlaat, maak seker dat jy aan die gevolge dink.

 Vra jou af:

  •   ‘As ek skool vroeg verlaat, sal dit maklik wees om ’n werk te kry in die toekoms?’

     “Dink aan die feit dat jy ’n werk moet kry en dan eendag moontlik ook vir ’n gesin moet sorg. Hoe kan jy dit doen as die meeste werkgewers verkies om iemand aan te stel wat ten minste ’n hoërskoolsertifikaat het?” – Julia.

  •   ‘As ek skool vroeg verlaat, sal ek dit maklik vind om probleme in die toekoms te hanteer?’

     “Skool berei jou voor vir die lewe. In die toekoms sal die mense wat jy ontmoet, die versoekings wat op jou pad kom en die werk wat jy doen, soortgelyk wees aan wat jy in skool deurmaak.” – Daniel.

  •   ‘Hoe sal dit my lewe beïnvloed as ek skool vroeg verlaat?’

     “Dit lyk dalk nou of jy die dinge wat jy op skool leer, nie weer kan gebruik nie. Maar wanneer jy 23 jaar oud is en jou tjekboek moet balanseer, sal jy dink: ‘Ek is bly ek het gekonsentreer in die wiskundeklas.’” – Anna.

 ’n Beter manier

  •   Kry hulp. Die Bybel sê: “Met baie raadgewers word sukses behaal” (Spreuke 11:14). As jou punte al hoe swakker word, vra ’n ouer, ’n onderwyser, ’n voorligtingsonderwyser of ’n ander volwassene wat jy vertrou, vir wenke oor hoe om te verbeter.

     “Praat met jou onderwyser as jy sukkel. Partykeer dink jy dalk dat jou onderwyser die probleem is, maar baie keer kan jy die situasie verbeter deur net vir hulp te vra.” – Edward.

  •   Kyk na die groter prentjie. Die Bybel sê: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin” (Prediker 7:8). Wanneer jy met skool klaarmaak, sal jy nie net kennis hê oor die vakke wat jy studeer het nie, maar jy sal ook belangrike eienskappe en vaardighede vir die lewe hê.

     “Jy hoef dalk nie opstelle te skryf of te studeer vir eksamens as ’n volwassene nie, maar die manier hoe jy stres op skool hanteer, berei jou voor vir die uitdagings wat jy sal hê nadat jy met skool klaarmaak.” – Vera.

    Om skool vroeg te verlaat, is soos om van ’n boot af te klim voordat dit geanker is. Jy sal dalk wens jy het aan boord gebly!

  •   Dink aan jou opsies. Die Bybel sê: “Almal wat oorhaastig is, sal arm word” (Spreuke 21:5). Moenie net vinnig besluit dat om skool te verlaat, jou enigste opsie is nie. Jy kan dalk jou skoolloopbaan voltooi deur middel van ’n aanlyn skool of tuisonderrig.

     “Skool leer jou om hard te werk, probleme op te los en saam met ander te werk. Jy sal altyd die voordele geniet. Dis die moeite werd om skool klaar te maak.” – Benjamin.

 Die slotsom: As jy met skool klaarmaak, sal jy baie dinge leer wat jou sal help wanneer jy ’n grootmens is.